My Pa was loshande ‘n witwarm Omie op sy dag. As kind het ek die aller heiligste ontsag vir hom gehad. Hy het net één ernstige reël gehad: Jy vrek eerder maar lieg môg jy nooit vir my Pa nie. Hy sou my kon red vanuit die wreedste tronk as dit moes, maar boeta, jou gatvelle was veilig solank jy net nie lieg nie. Met sy eiesoortige wysheid, het hy geglo ons moes gou op ‘n vroeë ouderdom ons eie lewenslesse leer. Een van die belangrikste lewenslesse was om te weet wanneer om te vra vir hulp.
In my matriekjaar besluit my Pa ek is beslis oud genoeg om self skool toe te ry met so wipgat Volkswagen golfie. Sonder lisensie sou hy my kom red as die polieste of spietkoppe taai raak. So is dit mos dat die cool-ene met vervoer almal oplaai vir die sokkiejol. Ons gunsteling dansplek was Tuks se bokjol sokkies. Die Kaap was Hollands, solank ons net voor Aspoestertjietyd tuis was. Een aand dans onsself nog so amper in beseringstyd in, toe gryp een slim-Piet my motorsleutels.
Die tyd staan nader aan twaalf en die slim-Piet staan en swaai sy sesvoet wynlyf sonder om die sleutel te oorhandig. Al die gesoebat en gepaai val op dowe ore. Einde ten laas gaan skakel ek my Pa van ‘n tiekieboks, en sê hy moet maar kom, want ek het nou als probeer. Wetende dat die slimme-Piet my Pa nie ken nie, waarsku ek slim-Piet so ewe dat my Pa in nét tien minute op die toneel sal wees. Slim-Piet se makkers staan bankvas agter hom en koggel ons dansmaaitjies se benoudgeit.
My Pa was nie ‘n groot man nie, inteendeel sy vyf-voet-vyf het niemand geintimideer nie, hy het ouer gelyk met ‘n bos sout-en-peper gryshare, taai bruingebrand van sonwerk op die plaas. Hy was altyd doodkalm en het rustig gepraat met so speelse glimlaggie om die mondhoeke. Nou-ja, toe my Pa uit sy mouter klim met sy pantoffels, toegeknoopte japon, pyp innie mondhoek; lê slim-Piet en sy makkers soos hulle hom uitlag.
Toe die gelag effe bedaar, gaat staan my Pa so viervoet voor slim-Piet. In sy beste “Trinity” verpersoonliking verduidelik my Pa dat hy net eenkeer mooi gaan vra vir die karsleutels. Weereens ‘n gejou en gekoggel vanuit die peanut-gallery. Ek staan piep-muis-grootte en asem-ophou agter my Pa se blad. Die volgende oomblik gebeur als so vining – dis oor voordat jy kan sê GATSLAG! Soos ‘n Mamba slaat my Pa vir slim-Piet in die krop van sy maag. Slim-Piet vou dubbel soos ‘n knipmes. My Pa gryp hom agter beide ore en breek Slim-Piet se neus met so knie-jerk-beweging.
Daar lê slim-Piet en skree soos ‘n vark wat geslag word. Sopnat in die natgras voor die manskoshuis. Sy makkers het almal ‘n paar meter terug gerittereer. Tussen bloed en snotborrels, oorhandig Pietie die sleutels met ‘n bewende hand aan my Pa. My Pa draai om, knipoog en sê doodluiters “sien jou by die huis, of bel net, dan kom ek, dag en nag” en stap rustig terug na sy mouter. Hy was my superheld en het my laat voel dat als in die lewe oorkombaar is.
Ek was ‘n brose negentienjarige snuiter toe sy liggie lank voor sy tyd gedoof is. Te veel vinnige mouters en nog vinniger vroue was sy einde. Hoe wens ek nie ek kon nog jare later van sy wysighede leer nie.
Eers jare later het ek beginner verstaan van kleinmannetjies se Napoleon sindroom. Miskien het my Pa op kindsbeen al slim-Piet-boelies uitgesorteer? Viva Napoleon! As jy jouself soos ‘n drol wil gedra, moet jy maar op die gras gaan lê.

Leave a comment