Ons was vol planne. Die pad was lank, die koffie sterk, en die wêreld het net reg gevoel.
Agt jaar lank het ons vertroueling Amarok nog nooit eers gekla nie. Nie ’n kik nie.
Toe — poef — 57 kilometer anderkant Divundu, in die middel van Babwata Park, breek hy.
Die stuurwiel ruk. My man trap ligter. Ons luister.
’n Geluid wat niemand wil hoor nie.
Ons kyk vir mekaar – daardie kyk van “o, hel…”.
Gelukkig, net daar tussen niks en nêrens, was daar ’n balkie of twee se selfoonsein.
Ons het stadig onder ’n koelteboom ingetrek — die enigste boom in kilometers.
Hy draai aan die stuurwiel, kyk onder die Amarok in, en sê rustig:
“CV joint. Die rubber brand. Maak reg vir ’n lang wag.”
So sit ons toe, onder daardie boom. Ek met ’n bottel water, hy met sy toolkit en sy geduld.

Hy bel die diensstasie in Windhoek — nege ure se ry weg.
Hulle bied aan om ons in te sleep. Teen ’n prys wat klink soos ’n vliegtuigkaartjie.
Nee, dankie.
Volgende oproep: die lodge anderkant Katima Mulilo waarheen ons oppad was.
Die eienaar stel voor: “Bel vir my mechanic.”
’n Ware Namibiese planmaker — drie ure se ry om ons te kom haal, drie ure terug.
Maar toe sê hy: “Wag. Bel eers vir Chicco.”
Chicco — die bos-mechanic van Divundu.
En dis toe waar die storie regtig begin…
Ons was nog vol vakansie-gees toe dit gebeur.
Die Amarok breek… en iets in ons breek saam.
Soos daai CV-joint rubber — uitmekaar getrek, rokerig, en met daai onvergeetlike stink.
My man kyk onder die bakkie in, frons, sê niks.
Ek ruik die reuk van verbrande rubber en ontnugtering.
Ons sit in Babwata Park — ’n plek so stil dat jy jou eie hart hoor klop.
Net die sonbesies wat gil soos ’n koor sonder dirigent.
Dis smeltwarm. Die lug bewe. Die stof klou aan jou bene.
Die deure staan oop vir die wind wat nie kom nie.
En toe kom hulle.
Koperlorries — een, twee… sestien van hulle, stadig soos slakke met ’n missie.
Ons sit en kyk, sweet, wag.
Die hitte druk jou vas teen die sitplek.

In die bos net agter ons hoor jy takke kraak.
Olifante. Grootes. Naby.
Ek kyk na my man. Hy kyk na die Amarok.
Niemand sê ’n woord nie.
’n Steenbokkie spring uit die gras, kyk ons aan, en besluit ons is nie moeite werd nie.
Die natuur gaan aan, ons sit vas.
Ek dink aan koue water, aircon, en hoe avontuurlik ek gedink het ek is.
Maar op daardie oomblik, met sonbesies wat gil en die Amarok wat stil is,
het ek net gedink:
“Chicco, waar ís jy?”
Twee ure later.
Net toe ons begin twyfel of Chicco regtig bestaan,
kom daar ’n stofwolk uit die verte aan.
’n Audi.
Nie sommer net enige nie — ’n warm, gehawende Audi, vol gereedskap en stories.
Drie mense klim uit: Chicco, sy handlanger, en ’n jong skoolseun met oë groot van nuuskierigheid.
Chicco glimlag breed. “Dis julle?”
Sy hand ruik na diesel en eerlikheid.
Hy dra ’n overall vol olievlekke en daai selfvertroue wat sê: ek het al erger gesien.
Hy kyk na die Amarok, loop stadig om hom soos ’n dokter wat sy pasiënt bekyk.
Dan skop hy ’n plat klip tussen die gras uit — perfek, natuurlik.
“Dis vir balans,” sê hy terwyl hy die car-jack daarop plaas.

Die Amarok kreun, lig stadig.
Agter sit hy ’n droë boomstomp vas — dik genoeg om ’n hut mee te bou.
Alles lyk rof, maar veilig.
Ek hou my asem op.

Toe gooi hy ’n stuk seil oop, vee met sy hand oor die stof, en kruip onder die bakkie in.
Net sy voete steek uit.
Die skoolseun staan nader, kyk, vra niks.
Sy handlanger hou die gereedskap gereed soos ’n assistent in ’n veldhospitaal.
Ek en my man kyk vir mekaar.
Ons weet nie of ons moet hoop of bid nie.
Die son sak stadig.
Die bos raak stiller.
En onder die Amarok lê Chicco — die bush mechanic van Divundu —
besig om ’n wonderwerk te probeer regmaak.
Toe ons sien hoe die handlanger gereedskap aangee, het iets in my sommer kalmeer.
Hier’s mense wat weet wat hulle doen.
Chicco lê onder die Amarok en fluit ’n deuntjie.
Elke nou en dan glip sy hand uit, vat ’n spanner, gee dit terug, en sê:
“Dis ’n mooi bakkie hierdie. Hy’t net bietjie liefde nodig.”
Tussen olie en sweet begin hy praat.
Vol stories, soos iemand wat lankal agtergekom het dat lewe nie net oor werk gaan nie.
Hy vertel hy het nooit skool klaargemaak nie.
Hy was nog ’n seun toe hy by ’n garage begin werk het.
Nie sommer enige garage nie — Von Baum’s Garage in Otjiwarongo.
“Ek het by die beste geleer,” sê hy met ’n trots glimlag.
“Oom Von Baum self. Daai ou was streng. Duits-streng.”
Jy kon dit sien.
Elke tool word eers met ’n sagte chemmie-lap afgevee voor dit in sy plek teruggaan.
Nie sommer net in ’n toolbox nie — in een van drie.
Alles netjies. Alles presies.
Die Gedore tools lê soos soldate in ’n ry.
Nie een skeef nie. Nie een vuil nie.
Ek het amper bang geword om te asemhaal naby hulle.

Chicco vertel verder — hoe hy uiteindelik sy kwalifikasie as Diesel Mechanic gekry het.
Groot geld begin maak by die Paaie Departement.
Maar, sê hy, met ’n skouerlig: “Dis te vervelig daar.
Ek wil werk waar die lewe nog asemhaal.”
Nou werk hy vir homself.
Ry waar mense vasval.
Leer elke dag iets nuuts.
Help elke dag iemand anders.
Maak vriende oral waar hy gaan.
Ek kyk hoe hy sy hande vee, lag oor iets met sy handlanger,
en ek dink — daar is mense wat meer as masjiene regmaak.
Hulle herstel jou geloof in ander mense ook.
Toe daai buite CV-casing af is, wil die Amarok niks weet nie.
Die enjin luier.
Die ratte klik, maar hy bly net daar. Styf.
Soos ’n steeks donkie.
Chicco en sy handlanger kyk mekaar aan.
Daai kyk van manne wat weet: dis nou ernstiger as net ’n rubber.
Chicco vee sy hande af, klim op sy foon en sê kalm,
in perfek Afrikaans:
“Meneer Kobus, daar is ’n outer CV joint op Rundu. Ek sal hom laat kom met ’n taxi.
Maar eers — ek sleep hulle in.”
Ek kyk na die Audi.
Dis warm. Dis laag. Dis nie iets waarmee ’n steeks Amarok gesleep word nie.
Maar Chicco glimlag net.
Hy stap vyf tree weg, staan in die pad, en lig sy hand.
’n Land Cruiser bakkie trek af, rem stof op.
Die bestuurder klim uit.
Hulle skud hande, praat kort, knik.
Dis Vrydag. Die naweek wink.
Ons kyk na die nommerplaat: Goverment.
My man stap nader, druk die amptenaar ’n fooitjie in die hand.
En net so — word ons gered deur ’n staatsbakkie en Chicco se bosdiplomasie.

Hulle haak die Amarok vas.
Ek sluk. Die sleeptou is kort. Té kort.
En daar trek ons — woeps waps uit onder die boom uit, reguit teerpad toe.
Die amptenaar bestuur soos iemand wat meer geloof as remme het.
Rustig, telefoon teen die oor, terwyl ons in sy buffer hang.
Ek kyk voorentoe, sien koerantopskrifte in my kop:
“Vakansiepaartjie en Amarok in vreemde sleepongeluk by Divundu.”

My senuwees is gaar.
Die son bak. Die bakkie slinger oor die pad.
En toe, net voor die polisiestop, trek ons af.
Die amptenaar glimlag, groet, en ry aan — na sy naweek toe.
Chicco se Audi neem oor.
Laaste twee kilometer. Stadig. Rollend deur die polisiestop, oor die Okavangobrug.
Dis middagete. Warm. Stof sit oral.
Maar ons is terug in Divundu.
In veilige hande.
By Chicco, die bosmechanic met diesel in sy are.
En êrens op die pad tussen Rundu en Divundu,
ry ’n taxi met ’n splinternuwe outer CV-joint —
ons klein stukkie hoop, drie ure ver.
My hart sak in my skoene toe ons by Chicco se werf inry.
Dis ’n mechanic se werf — groot, vol karwrakke en drome wat dalk eendag weer loop.
Bonnetse wat oopstaan soos monde wat om hulp vra.
Chicco stop. Ons klim uit.
Nog handlangers kom loer — nuuskierig, sweet blink op hulle voorkoppe.
Ritmies begin hulle werk.
Die Amarok word weer opgejack, die seil oopgegooi, die wiel afgehaal.
Ek voel my moed in die stof sak.
Dis vrek warm. Die lug staan stil.
Kinders hardloop tussen die wrakke deur, honde blaf, ’n haan kraai êrens sonder rede.
Ek kyk rond en besef — dis nou rêrig.
Die manne kyk mekaar aan.
Daai kyk wat sê: “Kom ons hoop die regte part kom.”
Ek sluk. Dis al wat ons kan doen — hoop.
Oorkant die pad loer ons na die shebeen.
Die musiek drup uit die deur soos sweet teen jou rug.
Chicco kyk ons en lag. “Daai plek,” sê hy, “dis net vir groot manne.”
Ek kyk na my man — ses voete in sy skoene, grysbaard blink in die son,
’n Vrystater deur en deur.
Chicco knik instemmend. “Ja, Meneer, jy’s reg vir daai plek.”
Ek lag — so half senuweeagtig, half dankbaar.
Dis nie net sy lengte wat hom ’n groot man maak nie.
Dis die manier hoe hy daar staan, kalm tussen chaos, met ’n houding van vat nie kak nie.
Die Amarok rus op die domkrag.
Die bosmechanics sweet en werk.
En êrens op die pad van Rundu af, bring ’n taxi ons toekoms — stadig, maar seker.
Na vier ure se biertjie en koeldrank-slurp by die shebeen, het die boob-boom-musiek ons nerf-af gemaak.
Ek’s klaar gelokaliseer. Kan nie meer local nie.
Chicco lees ons soos ’n boek.
Ek kyk na die Amarok, nog half opgejack, en wonder:
Kan mens vanaand in ’n daktent slaap as die bakkie skuins staan?
Die reuk van diesel en olie hang in die lug — swaar, maar troosryk.
Miskien raak ek hoeka hoog van die damp.
My maskara het gesmelt.
My lipstiek is lankal op ’n sweetmou afgevee.
My hare’s in ’n ordentlike “Ou-tannie-bolla”.
My hoop — dunner as die sleeptou van vanmiddag.
My man staan daar. Arms oor die bors gevou.
Daai kyk van: ek’s nog nie oorwonne nie, maar amper.
Chicco bel. Die taxi-koerier antwoord nie.
’n Stille vloek in die warm aandlug.
Toe maak Chicco ’n berede besluit.
Hy spring in sy Audi en trek daar weg in ’n wolk van stof.
’n Halfuur later lui my foon.
Chicco. Sy stem kalm soos altyd:
“Die taxi staan 30 km van Rundu af. Pap wiel. Ek ry hom tegemoet.”
My hoop flikker — soos ’n LED-Krismisliggie.
Klein, maar darem nog aan.
Toe, met ’n wafferse stofbol, kom Chicco terug.
Hy stop, klim uit, glimlag.
Hy en sy handlangers werk soos ’n goed geoliede masjien.
Gee, vat, vee af, pak weg.
Nagligte skyn, gereedskap blink, hande beweeg ritmies.
En toe — skielik — staan Chicco langs die Amarok.
Hy verduidelik met hande en woorde vol passie:
Van Chinese parte, van oorspronklike casings, wassers en spacers.
’n Mens sou sweer hy’s ’n professor van die veld.
My man klim in.
Die Amarok glip in rat — en purr soos ’n katjie wat weet hy’s vergewe.
Chicco glimlag. Handdrukke word gedeel.
Die handlangers dra die toolbokse terug, netjies soos altyd.
Dan sê Chicco:
“Dis laat. Ek stuur môre vir Meneer die rekening.”
Ons kyk mekaar aan.
Dis 2025 — mense vertrou mekaar mos nie meer só nie.
Maar dis Namibië. Hier kén mense mekaar.
Die volgende oggend kyk my man oorbluf na Chicco se rekening.
Billik. Redelik.
Beslis nie ’n Volkswagen-Amarok-diensrekening nie.
Ons dankbaarheid wys in dade — my Vrystaatman betaal sommer ekstra in.
Chicco verdien elke sent.
Toe ons daar wegry, voel dit of die wêreld weer reg is.
Ek het opnuut geloof in mense —
en nuwe respek vir die bosmechanics van Namibië,
wat meer regmaak as net enjins.
Dis volmaan.
Ons ry stadig die pad op, oor die Okavango se glans.
Die Amarok spin.
Ons harte ook.
Leave a comment