My man is dankbaar vir die internet. Dit is die EEN ding in ons huis wat hy seker maak NOOIT in ons huis uithardloop nie. (Wyse man wat met die hand vir my uitgesoek is…) As ons internet leeggetap is, verkrummel my ‘normaal’-geen net daar en dan.
Daarsonder sou ek serkerlik ‘n grillerige ou-tannie wees met honderde katte. Matigheid. Alles in matigheid.
Sodra ek voel ‘n gemoeds befloking kom bederf my dag – gryp ek my rekenaarmuis om gou beheer te kry. Dan kliek, kliek, kliek ek soos ‘n mal ding op my gunsteling loer plekke.
As ek nou daaraan dink, is ek sekerlik die blyste vir Google, en Google se slim foto prentjies. Kyk daar is net geen einde aan die wollerigge oorvloed van ougatgeit nie. Tumbler en Pinterest is van my anner gereelde loerplekke.

Sien, ek het ‘n vasdruk-kat hier in Akkra. Een is genoeg sê my Vrystaat Boerseun. Iets te make met die grootte van ons wooneenheid en twee wat sal vermeerder…blah-blah-blah. Terug in Namibië is daar ‘n hele spul diere op die plaas. Honne, hoenders, gaanse, koeie, skape en natuurlik drie katte. Miskien mis ek net die samesyn en interaksie van al die diere?
Misca is ons Akkra geelstreep kat. Hierdie katte is van die klein soort – sys amper drie en ‘n half jaar oud, maar piepklein soos ‘n nege maarde oue katjie. Destyds het ek haar by ‘n lokale veearts gaan haal, maar ai. Sy was so klein dat sy nog nie eens self kon eet nie. Dit sê natuurlik sommer baie van onse lokale veeartse se kennis oor katte! Seker ‘n wille ding iewers in ‘n bos gevang. Uitgespaar sou ek sê want hierdie ouens van die Noorde eet kat en hond. Ek vertel vir almal lokaal wat ore het sy’s vol chemiese veearts inspuitings en die een wat aan haar vleis hap sal sekerlik vrek van vergiftiging. Hulle vra gereeld of ek haar voer! En wat ek haar voer… Dink jou aan, dis ondenkbaar vir hulle dat ‘n dier jou moet geld kos. Wat nog van tyd wat jy aan haar afstaan met speel, troetel en versorging? My kombuisfeëtjie trap deesdae lig al om my kat. Sy is met die besem bygekom omdat sy Miska ongeêrg met ‘n besem vanaf die kombuismat ‘vee’. Bliksem – mors met my kat en ek krap jou oë uit.
Misca is gesnip – Boerseun se ding van een is genoeg, en daars reeds te veel weggooi katte innie wêreld…blah-blah-blah. Sy het haar eie grille en dinge. Sy’s nie ‘n op die skoot en in jou arms en bed, kat nie. Soggens wag sy my in, by my kamerdeur en kap-kap so effe aan my enkels soos ek my pad navigeer tot in die kombuis. Sy vryf gedurig deur, om my bene soos daai swart Dulux-verf katadvertensie van destyds. Deesdae klim sy suutjies op besoekers se skote en sit kalmpies soos ‘n swinks by hulle. Solank hulle nie te veel aan haar vroetel en vryf nie – sit sy toe ogies en verbeel haar sys Koningin Sheeba.
Ek kop dit. Daar is derduisende van hulle op die internet; internetkatte wat ek nie kan aandra nie. Net bekyk en oeh-en-aah, en sien Boerseun loer oor sy bril, my kant toe. Wyse man sprag geen woord nie. Loer net so nou en dan my kant toe.

Dis ‘n groot bonus dat hy gek is na katte. Nie die internet soort nie – hy is die een wat regte peek-a-boo speletjies met Misca-kat speel. Hy bekruip en bespring haar en karring met haar al is sy lui en nie lus vir speel nie. Hy koop speel muise en veer-stokkie speelgoed vir haar en het altyd tyd om haar deurmekaar te vroetel. Basta of sy nou daarvan hou of nie. Sy deel gedurig dieselfde rusbank met hom – net so ampertjies soortvan bo-op hom.
Mag ek eendag op my ou-dag omring wees met diere se onbaatsugtige liefde. Die beste ding wat ek nog gehoor het is van die ouetehuis wat losloop diere inneem en versorg. Dis mos nou ‘n wen-wen situasie.


Net vir die snaaksigheid: hie’d ‘n snaakse video van wipgat katte.

Leave a reply to Daniël Bezuidenhout Cancel reply