
Almal van ons het al hierdie smaak vir sy eie soort koffie. In Starbucks, met ‘n mondvol kaneel in die plastiekkoppie proe ek, en besef hoe sleg koffie kan wees. Daarna was ek lekker vies vir myself omdat ek soeveel geghoes het vir sulke slegtekoffie.
Outyd het my Ma kondensmelk koffie in ‘n fles ingepak wanneer ons see toe ry. Ek drink nie melk in my koffie nie, maar sodra ons die pad seetoe aanpak, of wintertyd gaan kamp of jag, pak ek kondensmelk in.
My ouboet gooi ‘n blerts whiskey in elke koppie wintersaand koffie. My Ouma Henna het ‘n whiskey elke aand ná haar koffie gehad, kamatag vir haar ‘maag’! Glo my, sy sonder “vlooie in haar maag” aan iets heel anders oorle.
My man hou van 2 lepels Medium geroosterde Duitse Namibiese Auzlese moerkoffie en slurp-slurp op die stoep sodra die son opkom. Swart en soet en in ‘n GROOT beker, dit smaak beter met sy hond by sy voete en ek langs hom.
Ons belêgging in ‘n Nespresso espresso masjien, het het my lewe verander. Nou wip ek sommer so woeps-waps ‘n Latté, Moccachinno of Cuppuchino op. Al die alluminium koppietjies word getrou na die handwerkklasse geneem. Dáár word dit opgetower in pragtige boheemse gipsie nekbehangsels en feëtjies wat klingel in die wind.
Ek het na jare van heeldaagse koffiedrink afgeskaal na net twee koppies per dag. Ek is steeds byterig by tye, die bewe in my hande tussen my twee koffiekoppies is minder opvallend. Ek smag nog na koffie, die een na die ander koppie, ek snuif diep al die aromas in verbyloop van baristas.
Ai koffie jou lekker ou Boeretroos.

Leave a reply to annavanstaal Cancel reply