Die Ridders van die Koeltebome


Om self mouterkar te bestuur – dit mis ek die meeste.

Net gou sleutels gryp en windgat winkel toe wip is maar ‘n drama. Natuurlik kan en mag vrouens hier in Akkra mouterkarre bestuur. Twee van my goeie vriendinne besit en bestuur sulke klein goggakarretjies; orals oor. Maar ons ry een grootte vier-by-vier- lewensgroot, jy sien my op ‘n myl aankom.  Die ridders van die koeltebome, en ek (die bestuurder) is soos magnete vir mekaar.

Dis onverklaarbaar. Ek weet nie of dit is omdat daar net meer stoppunte in ons omgewing is; of dat ek nooit geleer het om hulle te vermy nie. Miskien is die grootte van die kar en die geleentheid vir ‘n vinnige beursie verdikking in ekwilibrium? My man en drywer word nooit ooit afgetrek nie. Vrouens is maar ‘sagte’ teikens.

Die manne in uniform kom op met fiktiewe benullighede soos ek het kamantig nie ‘genoeg’ toegegee vir aankomende verkeer nie.   Ek het kwansuis te vinnig gery.  (Hulle het géén spoedmeetapperaat nie). Dan ‘arresteer’ hulle my bestuurslisensie, maar dis meer soos ontvoer en vasklou totdat ‘n losprys/ omkoopgeldjie betaal is.

Strikrowers
Strikrowers

Week vir week is dit dieselfde storie oor en oor. Die proses laat my so skuins befoeterd, maar ek staan magteloos om teen die vorm van korrupsie te staan en baklei. Dis so effektief soos poep teen ‘n windstorm. Die ouens bly roteer en blykbaar is hulle salaris so karig dat hulle ‘n slim manier gevind het om hulle eie gatsake mee te vul. Hulle vorm van intimidasie is seepglad uitgestyk. Jy kan selfs tot ‘n mate onderhandel oor die bedrag wat jy bereid is om te betaal. Om te weet wat is redelik  en nie te veel nie; dit is die kuns. Hulle beginner sommer deur direk te vra vir selfoon krediet.

"spot fines"
“spot fines”

Eendag het ek nét ‘n vyf cedi- en ‘n een cedi-noot in my beursie. (Dis so ZAR 42.00 ) Nadat die een ou die ander spietkop nader geroep het, kon hulle nie ophou lag oor die onwerklikheid dat ‘n ekspat dan so min geld kan hê nie. Hulle kry my toe jammer, neem die vyf cedi-noot en sê ek moet solank bylas met die orige een cedi-noot; vir volgende keer wanneer hulle my aftrek.  As jy ‘n groterige noot het sal hulle rondvroetel en jou nog kleingeld ook gee.  Voordat jy wegry groet hulle so ewe en mompel iets soos hulle is hier “to be at ‘service’ for you”!  Die ene breëbek glimlag. Blerrie skelms…

Boeta, hier geld die ou wet van Transvaal; jy sál k@k en betáál!  Dié wat nie betaal nie word na ‘n polisiesel vergesel, waar ‘n persoon vir ‘n daglank opgesluit word, en formeel voor die hofgedaag word. Die hofstelsel is ‘n beslommernis en mors van tyd.  Daardie hofboete is veel hoër as die glipgeldjie langs die pad.

Slim mense beweer ek moet hierdie dagrowers  met ‘n selfoon afneem. Ja wel, probeer jy ‘n selfoon skelmpies in iemand se gesig druk as hy langs jou venster staan en skree dat die spoeg spat! Ander stel voor jy moet met ‘n kopie van jou lisensie rondrits, maar jy besef onmiddelik dit sal nie waterdra wanneer jy afgetrek word nie. Nou moet mens maar noodgedwonge deur ‘n drywer rondgerits word.

Enige iemand wat reken dit klink grênd om so rondgerits te word is hoog op iets onsmaakliks. Daar sit heeldag aldag iemand hier buite iewers en wag om my iewers heen te neem. Wat van die dae wat ek in Jan Tuisbly se karretjie rondrits? As ek lekker sit en giggel in my vriendin se sitkamer, is ek bewus daarvan daar’s iemand in die kar se hitte en bloedige son wat vir my sit en wag. Daar is iemand wat altyd, ALTYD weet van AL my doen en late. Waar ek gaan en wie ek sien en wat ek waar en hoeveel ek koop.

Mens gee soveel van jouself en jou privaatheid meë dat die kool nie die sous werd is nie. Intussen sit ek maar in boosaardige stilte en gluur die Ridders van die Skaduwee aan en wens hulle allerhande onsmaaklikhede toe in my gedagtegang.

Hierdie video wys hoe ‘n lokale man deur die polisie gestop word. Die ou sê hy het nie geld nie en die polisieman stel voor hulle ry saam tot by ‘n ATM. Dan maak hulle grappies en die polisieman en bestuurder onderhandel oor die prys. Die motorbestuurder noem hy het ‘expenses’ en die polisieman dring aan hy moet vergoed word…dan wys die bestuurder ‘n foto van sy familie waarvoor hy moet sorg, maar die polisieman noem dat al ses van die ander om hom die vergoeding moet deel…na nog effe vriendelike draaksteek, betaal die bestuurder en die polisieman noem dat hy sy veiligheidsband moet dra.

Ridders van die Koeltebome

11 responses to “Die Ridders van die Koeltebome”

  1. Jy weet, dis die soort ding wat my boosaardig kwaad kan maak, nie oor die geld wat jy moet uithaal nie, maar oor die manier wat boelies kontrole uitoefen oor jou doen en late. Dit voel asof jy geen sê het oor jou eie leefstyl nie. Waar is Chuck Norris as mens hom nog het?

    Liked by 1 person

    1. Hester…as ek darem maar vir Chuck iin my handsak kon rondry… hie hie hie x

      Liked by 1 person

  2. Spokie sny spoor Avatar
    Spokie sny spoor

    Aardeland. Skokkend! Wonder soms waarheen alles oppad is …

    Liked by 1 person

    1. Moer toe…dis waarheen dit oppad is…

      Like

  3. Ek verstaan wat jy bedoel met verlies van jou onafhanklikheid en vryheid met ‘n drywer. Dit kan nie maklik wees nie. Om iets spontaan en op die ingewing van die oomblik te kan doen is iets wat ons so as vanselfsprekend aanvaar.

    Liked by 2 people

  4. Ai dis aaklig!Veral die magteloosheid teen sulke boelies.

    Liked by 1 person

  5. Blykbaar is daar dorpies hier in SA wat ook so verpes word deur die “ridders van die koeltebome”. Lyk my dit is eintlik ‘n aansteeklike siekte as jy ‘n sekere beroep beoefen.

    Liked by 1 person

    1. Hie hie – jy’s reg. En natuurlik is dit sô regte sakpas ou joppie. Mens raak sommer benoud as so dik ene jou stop, want jy weet hy’s reeds seepglad ingeoefen met sy omkopery. Dik uitgevreet aan nog dikker tjoppies. En as so maer enetjie jou aftrek met so nervous fladder, kan jy nog jou pad uitgesels.

      Liked by 1 person

  6. Blikemmer! Hulle organisasievernuf moet ‘n mens punte voor gee. Maar hulle bly maaifoedies.

    Like

    1. Net soos die Musketeers, een vir homself en almal vir mekaar!

      Liked by 1 person

Leave a reply to elizevdm Cancel reply