As klein dogtertjie van so vyfjaar woon ons vlietig in Alberton. My Ma werk by die biblioteek en my Pa verkoop nuwe blink karre. Op een woeste reëndag hol ons kindertjies soos afkop hoenders, uitgelate met plêstieksakke oor die kop in die reën. Dit was loshande die heerlikste speletjie wat ek kan onthou uit my kinderdae. (Elke kind hou mos maar sy beskermengeltjie op sy tone). Toe kom ‘n Tannie in spykerhakkies aangefladder – so in die reën; staan by die hek en koer dat ons gou moet naderkom. In my kinderonskuld reken ek sy wil my plêstieksak hê; om haar ernstige bol-opsteekhare van die reënbui te red. Maar nee, sy gryp daai sak behendig van my kop af en neuk my woeps-waps brandgat. Nico, my broer was ouer as ek en het haar soos Mannetjies Roux ge-side step en weggehol tot doer anderkand die waslyn. Ek het natuurlik so geskree – dit het geklink soos varkslag.
Sommer net daar in die veiligheid van ons eie oprit, in onse eie jaart het die monsterheks my leed aangedoen. Laataand verkla ek met droeë snikke die spykerhak Tannie se wandade aan my Pa. Pa het my rustig verduidelik dat die boosaardige heks van ‘n Tannie kamtig ons lewens gered het. Ga! Toe besef ek hoe verraad onder grootmense werk; die monsterheks in spykerhakke het ongedeerd, dood veilig bly voortleef, net twee twee tuinhekkes van ons af.

Leave a reply to Daniel Bezuidenhout Cancel reply