My vriendin en ek gaan besoek toe Agbogbloshie in Akkra. Dis boendoes toe – vir dié wat wonder waar dit is. Dis ‘n plek soos geen ander nie. Vrouens dra vragte in die mark rond op hulle koppe. Die draers se straatnaam is “Kayaye”. Hulle verdien so vyftig rand (ZAR) per dag, waarvan hulle R25 per aand moet betaal om soos hoenders op ‘n bondel te slaap in ‘n kamer. Die wat op straat in stegies of onder lorries slaap, staan ‘n groot kans om verkrag, beroof of aangerand te word. Baie van die vrouens het piep klein kinders met hulle. Kinderdiefstal is algemeen.

Kayaye-vrouens kom na Akkra, vanoor die hele Ghana, vir verskeie redes. Droogte, geweld, armoede, gesins tragedie, seksuele teistering, noem maar op, die lys is eindeloos.
Hulle almal hoop om in die groot stad van Akkra ‘n beter lewe te vind, maar besef gou dat hulle tussen vier miljoen ander Afrikane moet kompeteer vir ‘n aalmoesie.
Die geld wat hulle verdien stuur hulle terug na waar hulle vandaan kom. Sommige woon vir jare in hierdie haglike omstandighede en bly geld terugstuur. Almal droom van ‘n beter toekoms. Ons kom af op ‘n NGO wat van die Kayaye oplei as kleremaaksters en haarkappers. Dis ‘n piep klein warm verterk met plek vir ses masjiene. Almal is doenig en aan die stik. Musiek blêr en dit klink soos vinke in ‘n boom soos wat almal gelyk gesels.

Te danke aan die NGO’s se werk – word Kayaye vrouens aangemoedig om terug te gaan skool toe. Die skole neem hulle kinders gratis in. Skole is beknop met maklik 80 skoliere in ‘n enkele bloedwarm hout vertrek. Ons het drie skole sommer in ‘n klipgooi vanaf mekaar besoek. Hulle was stampvol, oorvol.


Hierdie kleremaaksters is trots en kan nie wag om terug te gaan en te werk en ‘n beter verdienste te maak in die statte waar hulle vandaan kom nie. ‘n Opleidings kursus neem twee jaar om te voltooi.

Verbasend genoeg is daar vars gewaste wasgoed wat uithang, in ‘n plek sonder lopende water of spoel toilette nie. Natuurlik hang my kop in skaamte oordat ek so aangaan oor die ‘kwaliteit’ van water wat in my huis vrylik uit krane loop.
Die vrouens is aan die giggel en deel grappies. Daars hoop. Hoop dat dit nie vannag sal reën nie. Hoop dat hulle kinders skool opleiding sal ontvang. Hoop dat hulle baie vragte sal kry om rond te dra. Hoop dat hulle genoeg geld kan huistoe stuur. Hoop dat hulle tyd hier sal kortstondig wees. Hoop dat hulle iets anders in die nabye toekoms sal kan doen om mee geld te verdien.

Party rus of deel ‘n ete terwyl hulle sommer net so sit in hulle blikskottels. Sommiges lê en slaap op sakke Yams (wortel groente amper soos patat) of onder lorries. Die meeste hol soos miertjies eindeloos op en af met bondels vrag wat hulle tussen mense en elektriese kabels deur manoever.

Die NGO wat hulle help is Muslim. Alle Muslims is nie sleg en boosaardig nie.
Hoe bevoorreg het ek nie gevoel nie – Ek kon huistoe gaan en die vuil van my voete afwas.


Leave a reply to shadowwhisper Cancel reply