Fluisters in Akkra se Banksale


Na gisternag se tropiese heelnag-deur reënbui, is die humiditeit dik om my. Die sonnetjie trek stoom uit die nat teer, waar ek voor die ATM staan en wag. “Bliep”-net een Ghananese-boorling vlak voor my besig met die ATM. Die ATM spoeg ‘n kwitansie uit en die jongman voor my sê beleefd “Dankie”!  Miskien is die skerp oggendsonnetjie, en ek het nie mooi gehoor nie. “Bleeep” -Minute sleep stadig verby. Middelvinger-en-duim se vingerpunte in aanraking, ‘lekker diep asemhaal en rustig asemhaal’; dink ek by myself. ”Bliep” Nog ‘n “Dankie” van die ATM-verbruiker. My ore lieg nie vir my nie.

Ghanese hou van banksale en hulle vertrou hierdie hele ATM-bedryf glad nie.

Hulle hou van tydmors dink ek.

Ek hoor hom in die gruisklippies aangeskuifel kom, lank voordat ek hom sien; so krom grys-bleskop Omie. Regvoor die dubbel tintglasdeure van die bank sit hy sy leerhandtas neer, staan hy wydsbeen sy refleksie en bekyk. “Bliep”. Tydsaam pluk-pluk hy sy Mandela-kraaghemp se soompunte oor sy kerkbroek. Hy vroetel in broeksak vir ‘n witsakdoek en vryf ‘n paar keer die blinksweet van sy bles en voorkop. “Bleep”. Met moeite buk hy vooroor en fladder hy ‘n stoffie vanaf sy poetsskoene af. Dan tel hy weer sy leertassie op, trek sy kromskouertjies terug en stap kiertsregop, Zennith Bank binne. “Bliep”nog ‘n kwitansie en nog ‘n “Dankie” voor my.

 Ai, ek sal verouder hierlangs in die son; my geduld eensklaps opgedroog. “Is die ATM stukkend?” vra en die enkeling voor my. “Hello” ek is Akim” groet die jongman kamma verbaas en erg vriendelik. “Nou hoekom is jy amper vyftien minute reeds besig?” vra ek. Hy pak net mielietanne uit soos hy opgewonde verduidelik als is klopdisselboom; toe hy sy kaart indruk, bied die ATM hom ‘n hele reeks Menu-opsies aan. Nou oefen hy elke opsie uit wat die masjien hom bied, sodat hy kan vergelyk of die betrokke “mens in die masjien” se syfers ooreenstem met die bankstaat van die “mense binne bank”. Hy wys my trots die handvol ATM strokies in sy hand.

‘Red nou my siel’, tydmors!’ dink ek by myself.

Banksake hierso is soos veertig jaar gelede in Volkskasbank in Die Republiek. Daar is geen draaiglasdeure of tydkubus drukgange waardeur jy kom en gaan nie. ‘n Deurwag swaai teateraal ‘n glasdeur vir jou oop en groet jou met die woorde “Jy’s welkom!” Sodra jy in ‘n Akkra banksaal instap fluister mense soos outyd in ‘n biblioteek. Dan moet jy vir ‘n oomblik sit op ‘n gestoffeerdestoel terwyl ‘n klerk of sekeuriteits persoon naderkom en in ‘n fluisterstem vra wat jy daar kom maak. Die heeltyd is dit ‘n gegroetery. Almal knik –glimlag –knik en bied jou ‘n slaphandskud en die vroueklerke bied ‘n knikkie van die knieë by. Dan wip hulle daar weg en bring die vorm wat jy sou benodig en saam gaan staan julle nou statig by ‘n houttoonbank in die middel van nêrens. Die vorm word deur die klerk ingevul, stadig, netjies en noukeurig met swart-ink in skoonskrif. Jy dikteer net vir wie, rekening nommers en adresse en someer. Nee, moet nog nie teken nie, die bankklerk moet die handtekening in-persoon offisieël waarneem!

Vandaar gaat staan jy in ‘n ry, vormpie in die hand – heilige stilte. Binne enkele minute is jy voor ‘n regte offisieële bankklerk. Weer ‘n vreeslike gegroetery, knik en glimlag en knieknikkie wat daarmee saamgaan – dankie vir koeëlvasteglas of jy kry ‘n komplimentêre klapsoen. Die klerk vra dat jy daar en dan die betrokke vormpie teken. Heilige stilte – als baie offisieël. Na ‘n paar swart-ink stempels en sleutelbord gevroetel, ontvang jy die transaksiestrokie en swaai die deurwag weer swierlik die glasdeur vir jou oop.

Ek voel aangedaan, soortvan adellik. Ek kom sommer weer môre, nét om my bankbalans te kom vra!

Marmervloere, gestoffeerde stoele, heilige stilte

12 responses to “Fluisters in Akkra se Banksale”

  1. Dit het my nou teruggeneem na kinderdae se besoeke aan Volkskasbank (soos jy sê) gewapen met my bankboekie, alles vreeslik formeel. Baie mooi geskryf, ek kan dit voor my sien afspeel. Klink of daar nog ‘n ouwêreldse respek in daai geweste is wat êrens in die haas van ons eerstewêreldse gejaagde lewens soms agterbly want daar is nie tyd daarvoor nie.

    Liked by 1 person

  2. Net nog ‘n ‘dankie’ om jou dag verder op te kikker. Die of dae sê banke … Ek was bang vir hulle. Daai mense was te kwaai en ernstig 🙂 Ek het lekker gelees.

    Like

  3. Awesome! Daardie oog tot oog kontak, en tyd wat ander vir jou maak.

    Liked by 1 person

  4. LOL, jy sê jare gelede se banke? Nee jong, baie banke gebruik wel nou sekuriteitsdeure, maar soms maak die wag nog steeds die deur vir jou oop, en agter jou toe, en by Nedbank waar ek nou handel, staan mense jou hand gevou en inwag, gereed om jou na die regte ry en vormpies te verwys – of vormies aan te dra, sodat jy kan invul terwyl jy in die ry wag. Gelukkig is die vormpie kort, of onnodig, en die ry gewoonlik ook kort, omdat mense “reg gehelp” word, en tyd dus nie gemors word nie.
    Ek het ‘n paar mense hoor opmerk hoe baie hulle van die persoonlike kontak hou wat nou terugkom. Jy is nie net meer ‘n nommer of bankbalans nie, jy is ‘n mens.

    Liked by 1 person

    1. Dit klink nou oulik. Ek reken hierso doen hulle so voort want baie mense kan bie skryf of lees nie

      Like

  5. Toe ek die foto sien, was my eerste gedagte “Kyk hoe blink die vloer!”. Heelwat beter as die ATMs waar die knoppies so taai en vuil is dat jy nie aan hulle wil vat sonder ‘n tissue nie. Dankie tog vir aanlyn bankdienste.

    Liked by 2 people

    1. Mwhahahaha jys so reg. Die ding waarvan ek vergeet het is daai persoon wat heeltyd mop

      Liked by 2 people

  6. Spokie sny spoor Avatar
    Spokie sny spoor

    Hiehie – oulik geskryf. Ja, mens ken nie al die kulture nie. Baie interessant.

    Liked by 1 person

  7. Bly is ek nou dat ek jou ontdek het! Ek het lekker gelees!

    Liked by 1 person

  8. Dit was nou heerlike leesstof

    Like

Leave a reply to Spokie sny spoor Cancel reply