Negentien en twee


Trou is nie perdekoop nie, maar as jy Ghanees is, betaal jy vir die perdekar ook. ‘n Vrou kan sewe-en-dertig wees, met ‘n kroos van vier, voordat sy haarself einde te laas voor die kansel bevind. Huweliksmaats word soms deur families gekies, as jy gelukkig is, word jy darem geken in die saak. Hier in Ghana trou jy jouself morsdood. Eers voor die magistraat, sodat die staat jou huwelik herken en jy minder belasting kan betaal. Volgende trou jy tradisioneel in jou stat sodat jou Hoofman en stam jou huwelik herken, en jy jouself van ‘n begrafnis lêplekkie kan verseker. Daarnaas volg ‘n properste Kerktroue sodat jou kinders eendag gedoop kan word. Die Europeërs se inmeng is orals te siene want Ghanese se ryk kultuur is bespikkel met Westerse tradisies. Wit hoepelrokke, ‘n string bont blommemeisies en rêgte trouringe is nou allerdaags. Dis net meer kleurvol. Baie meer kleurvol. Afrika bang mos nie kleur nie.

Maar ja, verskillende tiertjies dra verskillende strepies. In die vroeë negentigs het ek my liefdesbriewe met ‘n elektroniese tikmasjien getik. Netjies en noukeurig het ek my jongmenslewe in Pretoria vasgevang tussen twee of drie velletjies lugpospapier. So, kon ek meer lawwighede op papier inpas, en die hele vlerk-slepery bedryf was tog al te statig, uitgemeet in ‘n kadens van briewe pos-en-ontvang. Nadat ek die briewe gepos het, was die afleweringtyd tussen nege dae en twee weke. Daarop het die lang wag gevolg- vir ‘n brief in ontvangs. Daar was genoeg tyd vir besinning, diep denke en inkyk om my eie hart se geheime uit te rafel. Afstand maak die hartklop sterker; ‘n gedruis in jou ore wat ander mense om jou, se stemme uitdoof. Doer bô in Ethiopië was my Vrystaatboerseun; loshande die mees misterieuse ou wat ek in my hele lewe teëgekom het.

Daar was geen ander jongmens wat so makskaap in ‘donker’ diep Afrika gewerk het nie. Hy het oor-en-weer tussen lande, lughawens en kontinente gereis soos studente beweeg tussen lesingsale. Sy skootrekenaar het hy opgekoppel met primitiewe krokodil-knypers aan hotel telefoonkabels om toegang te verkry na sy firma in RSA se databasis. Daai Vrystaatboerseun was die eerste ou van my ouderdom; wat verder as ‘die grens’ gereis het, en teruggekom het. Kiekies van vier-en-twintig op filmrolletjies is ontwikkel: vreemde kiekies van palmbome, kokosvrugte, Massai jagters, pienk flaminke, watervalle en Killimanjaro se yskappie. ‘n Polaroid van ’n eerste draagbare selfoon, teen die oor – so groot soos ‘n kleibaksteen, waar Vrystaatseun onder die N’kruma sirkelboog staan; was uitgestal op my spieëlkas.

Die weke en maande was intens. Die afstand in ‘donker’ Afrika was langer en verder as mens dit net in jou verbeelding meet. Menigtemale het my vriende my kop probeer lees. Party het selfs gemeen die Vrystaatboerseun was denkbeeldig, so skaars en min was sy Pretoria besoeke. Laataand was die Sunnyside woonstelklanke oorweldigend stil. By tye was ek onredelik en pateties. Seker maar die hormone. Daardie vrolike hand-aan-hand verliefdes op straat het ek kliphard en jaloers weg gewens. Romantiese eetplekke, koeksisters, trane-trek flieks en enkel ouens het ek daadwerklik vermy. Ywerig, het ek harder en langer gewerk as al my kollegas. Enige iets net om die tyd te verwyl.

O-wee; die verskriklike opgewondengeit die Vrystaatboerseun kom kuier. ‘n Meisiemens lê ‘topless’ en ‘tan’ vir dae lank op die balkon en laat-loop haar verbeelding oop-ketel. Die dag voor die afspraak word die uitrusting met Delliah-presisie beplan. En daar word ge-‘prim’. ‘Prim’ het te doene met naellak, tweesers, skuimbaddens, parfuum, haarprodukte soos Timotei, vlos, skeermes, krullers en die fynste kant goete in haar besit.

Ek het my negentien liefdes briewe en die twee poskaarte, oor en oor gelees. Dit het my en die Vrystaatboerseun, voor die kansel gekry.

Negentien jaar later woon ons saam in Ghana, onse twee kinders het gevolg op die kansel episode, en ons neem nog steeds vreemde kiekies.

Typing Love Letters

13 responses to “Negentien en twee”

  1. Oeee dis mooi. Dis BAIE mooi.

    Liked by 1 person

  2. Jy se dit so pragtig: “Afstand maak die hartklop sterker; ‘n gedruis in jou ore wat ander mense om jou, se stemme uitdoof”

    dankie vir die deel van jou storie, soos altyd lekker om hier te kuier.

    Liked by 1 person

  3. Baie dankie, lekker gelees.

    Liked by 1 person

  4. So romanties, dit maak nou sommer vir my ook bewoë en ek is so onsentimenteel soos wat hulle kom. Die een liefdesbrief wat ek die beste onthou, vertel ek nou vir my man (nie die skrywer nie), was toevallig ook van ‘n Vrystaatse boer en dit het begin met “Meisie, kom sit hier langs my sodat ek jou handjie kan vashou terwyl ons gesels”. Dit was nou ‘n mooi herinnering wat jy teruggebring het, dankie.

    Liked by 1 person

    1. Haai Sjoe Hester, net ‘n Vrystaatseun kan toor met woorde wat mense toenterjare later nog onthou…!

      Liked by 2 people

  5. Jinne dis baie getrouery

    Liked by 1 person

    1. Daai mense word gebreinspoel om so baie te trou. Dit kos ‘n plaas se geld, en siedaar dan kap hy nog om ook en sit die weduwee haar huis op om die man te begrawe…net te erg vir woorde.

      Like

  6. Ag dis lekker romanties. Julle is voorwaar vir mekaar bedoel

    Like

  7. Dis so mooi geskryf! Die senuweeagtige en opgewonde afwagting om daai spesiale persoon te sien is goeie herinneringe. Dit laat my wonder hoe vandag se kinders hofmakery gaan ervaar in hierdie era waar alles so onmiddellik gebeur. Dis so asof ‘n bietjie van die romanse in die slag gaan bly in hierdie gejaagde tye. Dankie dat jy jou storie gedeel het, dit het my sommer weer jonk laat voel!
    Christina

    Liked by 1 person

  8. leolynnsmith Avatar
    leolynnsmith

    Pragtig geskryf. Die manier waarop jy jou woorde weef – wow!

    Liked by 1 person

  9. Ek het hierdie geweldig geniet nou! So ‘n mooi lees

    Liked by 1 person

  10. Prachtig mooi beschreven met plezier gelezen.

    Vriendelijke groet,

    Liked by 1 person

Leave a reply to Daniel Bezuidenhout Cancel reply