Hier langs my, hang ‘n verlepte tiener in in die bank van KFC; sy kop hang onder neon-kleurige bobbel oorfone – dis nie ingeprop nie want die punt hang op die teëlvloer. Die kind kan enige oomblik smelt in sy stoel, en afglip tot ‘n bondel wasgoed op die vloer. Sy oë staar maar sien niks. Sy geel vingerpunte vroetel ‘n groen Checkers sigretaansteker, om-en-om. Oorkant hom sit sy Ouma hom en beloer. Daai kyk het my eie Ouma my ook eendag lank terug gegee… toet se jare terug; onder ietwat ander omstandighede.
Destyds had ek ook so paar oorfone gedra – sommer sulke swartes. Ingeprop in my Pa se Pioneer Hi-Fi. Plat op die mat, voor die luidsprekers– daar het ek huiswerk gedoen, sommer so op die pêns met die lerieke van sy Springbok plate wat blêr in my ore. Ouma het kom kuier in Pretoria vanaf Warmbad met haar ligblou Dutsin moutertjie, en my daar op die mat die Leviete voorgelees. Sien, flussies-se-dae het die ou-mense gedink oorfone sal jou doof maak lank voor jou tyd. Seker maar soos ek vandag voel oor dieselfde Scull Candy-oorproppies wat my eie kinders deesdae dra?
Ai waar is die dae? Vandag sou ek wat wou gee om daai versameling plate te kon luister, om weer in my Pa se huis op die mat te kon lê…Groot-oog voor my Ouma staan sodat sy my berispe.
Daars natuurlik geen rede om heeltyd die verlede terug te deins nie – maar so sweempie nostalgie maak my dankbaar. Dankbaar vir eenvoudige lewenslesse. Goeie herinneringe en ‘n tyd van onskuld en snoep tegnologie.
Die verskil was onse generasie was “ingeprop”. In alles – letterlik. Jy moes net deelneem in als, want dit was skoolreëls. Geen uitsondering is gemaak nie – niemand se gevoelens was in ag geneem nie. Jy was in sekere goete en klere ingeprop: skool musiekblydspele, konserte, jeugkampe, kuiers by Ouma en Oupa, Volkspele, Kerk Basaars en Familie pieknieks. Van al daai dinge was daar geen verbykom kans nie. Vriende was nie belangriker as familie nie, en jy moes maar net jou sosiale lesse so terloops byleer.
Vandag se ouer-garde moet hare op hulle tande hê om by modern tye en tegnologie te hou. Die oomblik wat hulle geleer het fakse is vinniger as briewe met posseëls op, moet hulle die tikmasjiene wegpak en e-posse leer stuur. Na die Rock Hudson-skok, kan hulle eventueel nagmaal toe sonder hoedjies en sykouse. Dikbrille word vervang deur ooglens-operasies, plooie platgestryk met Botox. Gooi uit Playtex se Cross-your-heart bra’s en koop Woolies se Wonder Bra en dra-jou-kralestring-horisontaal. Hulle moes opgradeer van plaaslyne se trieng-trieng luie na Nokia’s en nou weer na slimfone. Vergeet van perd en fietsry, dis nou tyd vir liksensies en Koreaanse moutertjies met lugimpakkussings en elektroniese venstertjes.
Onlangs het my seun sy Oupa se motorhuis help skoonmaak. ‘n Taak kammatig benede vandag se tieners, maar ook nie vir Oumense met jig in die hande en krom rûens nie. In ‘n dik laag stof ontdek hulle ‘n paar amateur-videos op 9mm filmrolle, ‘n paar kasset klankbane en ‘n klomp skyfies in ‘n Tupper-bak. Na verdere ondersoek, baie afstof en ‘n gevroetel met die masjiene sit hulle aand vir aand en tuisvideo’s en skyfies deurkyk. Ek hoor my seun sing die woorde van van Gé Korsten se liedjies in die stort. Oupa het my sopas ge-Whatsapp…sy kleinseun reken hy is über cool, en Oupa wil hê ek moet die woord Google, want Oupa leer nog elke dag die taal uit sy kleinkinners se mond.
Nou loer ek weer vir die Oumatjie en die slap-gat-tiener hier langs ons tafeltjie. Ek het haar onderskat. Sy gaat hom nou in ‘n ding inprop, of hy nou wil of nie…

Leave a reply to coetzee2014 Cancel reply