Die Dikboek sê als en almal het sy tyd. ‘n Tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan. So verstaan ek hoekom bestuurders van mouetrkarre hier in Ghana nes dagga-besetenes op die paaie aangaan. Die hele Sondag sit hulle sardientjie-styf in die bloedige hitte en kerk-hou. Geseënd en uitgespaar, kan hulle sekerlik nie wag om deur daai goue hekpoorte met mouters te storm nie!
Akkra se paaienetwerk is ‘n erge frustrasie vir elke ander padverbruiker met gatbrand aspirasies vir spoedvark-streke. Net soos in Angola is daar te veel mouters in ‘n stad sonder stadsbeplanning. Stadsbelanning is ‘n illusie, behalwe as jy beplan om iets te bou. Maar die ouens kleur hulle dag se verveling in wanneer hulle soos super sluipers in gaaitjies tussen ander mouters deurglip. Vinnig – soos wanneer ‘n foon in ‘n toiletbak inval. Jy sien dit in stadige aksie – maar is altyd te laat om dit te keer. Tussen verkeersligte kan dieselfde mouter elke keer op ‘n ander hoek vanaf jou mouter stilhou- al hou jy in jou baan.

Man of vrou, jy moet Tarzan se borshare hê om as vreemdeling hier te wil bestuur. Eers moet jy soos ‘n sirkusnar deur vlammende hoepels van burokrasie spring om jou lisensie lokaal te laat heruitreik. Dan moet jy gat-om dink om aan die linkerkant te bestuur, en aweregs jouself om ‘n verkeers sirkel spin. Kyk strak voor jou, wikkel soos ‘n muis op satynslippers jou mouter se neus in aankomende verkeer in. Stuur vurige skietgebedjies boontoe dat die ouens se remme werk om sentimeters van jou af stil te hou en jou in die verkeerstroom in te laat. As vrou moet jy net pateties lyk en elke aankomende bestuurder aanstaar. Iemand sal mettertyd stilhou en die vreemdeling ‘n kans gee om in die verkeer in te glip. GPS het sekerlik hanne in die luggegooi in hierdie plek want hier is bitter min straatname.
Laatnag word die manne en muis vanaf mekaar geskei in groot areas sonder krag. Met geen verkeersligte of straatligte in werking, moet jy die dimensies en krag van jou mouter goed ken. Vooraf kennis van waar slaggate is, en hoe wyd die oop riool slote langs die pad is, kan jou ‘n wrede ontnugtering spaar. Deesdae neem lokale mense hulle kinners en honne se eie veiligheid self onder hande. Hulle gooi voor-oggend sommer so, self ‘n kombinasie spoed hobbels in die pad! Dink jou dit in, elke ander slim-Piet wil sy eie hobbels dikker en hoër as die vorige ene hê! Jy moet self besluit wat vandag uit en afval, karspieëls of valstande.
Eintlik is hulle fantastiese bestuurders – want hier is min verminkte wrakke op die pad. Motorfietsryers is regte egte Kamakazi wanna-be’s. Hulle kry hulle kenz-strepies as hulle soos natpoep oor rooi verkeersligte tussen kruisverkeer oorglip. Ander motoriste het geen respek vir hulle nie en sal doelbewus die gapings tussen bane vernou net om ‘chicken’ te speel met motorfietsryers. Daar word net skouers opgetrek en aangery as ‘n motorfiets sulke langggg briek-en-vasdruk-strepe in die verfwerk van twee mouterkarre nalaat. Niemand stop en spring uit en bars ‘n aar in die kop wanneer iemand jou buffer agterlangs so steel-stoot-soentjie gee nie. Kyk net Noord en fladder voort.

Kerk in hierdie land is groot besigheid. Slaat jou oë op na die hemel dan kyk jy vas in ‘n groot advertensieborde. Die fotos met ‘n string van vyf of sewe begaafde priesters met statige engeltjie-vroom uitdrukkings.

Hulle word ingevoer van een of ander beloofde land om begeesterde hele-naweek, deurnag preke te lewer. Daars groot woorde soos “heilige vuur” maar dis nie die braaivleis soort nie. Mouterkar ry hier in Akkra is opwindend soos speel met vuur. Voordat jy jou limiete in die verkeer kom uittoets, maak seker jou dikboek-sake is reg, en pak in, jou Tarzan-borshare.

Leave a reply to Orange Blue Cancel reply