Hier in Akkra het almal ‘n opinie oor als. Vergeet van sin maak – die een wat ‘n onderwerp die meeste kan uittorring is voor die handliggend die een wat ‘die meeste daarvan weet’!
Daar’s rooimiere in my holle. Ek weet net nie meer, hoe om te fake dat ek luister nie. Sy kop wieg en bons rond soos daai wieg hondjies in die agterkant van ‘n ou Valiant. Sy oë rek en vernou as beklemtoning van sy storie. Sy hele gesig is reeds ingeprent in my kop. Elke strepie en skakering van sy baard ken ek reeds. Sy ondertanne lê effe skuins links- koes seker vir die woordevloed. Ek forseer myself om ten minste in sy rigting te kyk. My oë dwaal links en regs verby hom. Die geraamde fotos en verfstrepe agter hom, verlei my aandagspan. ‘Haal hy ooit asem?’ wonder ek.
Hy’s skerp – as my oë glaserig word of as ek gaap, noem hy my naam; skerp – soos ‘n Engelse skoolonnie wanneer jy jou onklaar huiswerk moet voorlees.
Luister die man ever na homself? Bring enige tema op; iets ligsinnigs waarmee onse mense geselsies maak soos: die onderwys is nie wat dit voorheen was nie – en hy vat die aas en loop met hom soos ‘n tiervis wat aas steel. Hy state die obvious. Herhaal jou stelling tien keer oor en oor. Pluk ‘n naam iewers uit van een of ander bekende, staaf hoeveel geld en aansien daardie bekende het –vereenselwig homself in die bekende se klas of stand…yak-yak-yak. Niks het ‘n positiewe spin nie. Ander halfuur later het hy die hele ding uitgetorring – gedraai tot in sy kinderdae, bespikkel met sy vervloeë beroepslewe en vloer gemop met bure en familie.
Jy besef iemand moet net die onderwerp verander voordat jy helder oordag tannestokkies in jou oogballe peg net om nie van verveling te vrek nie. O-wee…moet net nie in die slaggat trap en saamstem of knik nie. Dis soos tweeloop twaalfrondtes haëlgeweer te laai en te gee vir iemand wat nie kan skiet of mik nie. In jou kop druk jy wattabolletjies in jou ore. Werk nie; nou sit ek en wonder hoeveel bolletjies kan in sy mond inpas, hoe vêr innie keelgat af voor die stem stil raak? Dis asof hy ‘n grammefoon ingesluk het, net ek weet nie hoe om die af-knoppie te druk nie.
Mens kan net soveel stront-praat verduur. Aanvanklik het ek asem opgehou om darem ‘n drie woord sinnetjie in te gooi as hy asem skep. Dis useless want hy’s in fast forward, double speed. Jou kans kom net nooit…
Mens is van tyd-tot-tyd in ‘n formele ete – ure lank met baie belangrike Mr So-en-so, en jy wonder hoe het hierdie ou ooit vrou of werk gekry. Jy spring op en gaan bestel koffie, gaan pie-pie, soek na die drywer, gaan laai jou foon, wegkomkans is daar nie, fake ‘n kramp (inni hol) –enige iets net om jou ore ruskans te gee.
‘Dink positief’ maan ek myself. Ek waag ‘n ‘counter attack’ en stem nie saam met al die negatiwiteit nie. Maak ‘n stelling soos “mense sal wel een of ander tyd leer uit hulle foute”.
Nee man, dis soos ‘n skêr gee vir ‘n driejarige om hare mee te knip. Hy loop begeesterd met hom soos ‘n Ousie-met-‘n-mop! Gee ‘n toneelspeler ‘n verhoog en hy blom, maar gee hom ‘n tragedie soos ‘n misleidende waarheid en hy word die hele Weskus se blomme seisoen!
Ek is sommer de-moer in vir myself dat ek myself in hierdie situasie bevind. Waar is die hele Sarie se rubriek-kopdokters as jy hulle nodig het? Die lig vang die Kristalligkandellaar en gooi reënboog spikkels op die tafeldoek. Nou neuk my konsentasie sommer van die stokkie af. My verbeelding loop hop-land-toe met diamante, feëtjie glitters, Rio de Janero…in my kop luister ek na my eie geselsskap…yak, yak, yak.
Hier is ‘n oulike youtube clip. As jy ENIGE Ghanaian iets vra sal hy/sy die antwoord opmaak. Daar en dan! Maar die woorde ‘ek weet nie’ is blykbaar net beskore vir totale sotte. Mmmm dis ‘n ander ding as jy verdwaal is en pad vra…hulle sal lieg en bedrieg maar nooit erken hulle weet nie die pad nie…

Leave a comment