Al ooit gewonder hoekom nuwe getroudes op wittebrood ‘weggaan’ na ‘n vreemde plek? Dis sodat hulle vreemde grille na vore kan kom en die huwelik se gestryery in alle erns kan beginner! Akkra het sy eie versameling van mense wat heeltemal buite karakter optree.
Swembad chloorpille kan jy maar afdruk, maar dis ‘n kwessie van tyd – daai vreemde goete bly boontoe pop en borrel. Vreemde plekke laat die vreemdheid van mense na bô borrel. Sy’s is ‘n boeremeisie van ‘n klein dorpie Deben– net annerkant Kathu, in Suid –Afrika. Daar noem hulle haar Meisie, maar hier in Akkra dring sy aan om geroep te word: Maro-Zelle. Net gister was sy krummels en vandag is sy brood! Haar man is die kalmte vanself – hulle sprokie lui ietsie soos skoonlief en ondier. Ek weetie of hulle twee-jaar huwelik dit op die lang soutpad gaan maak nie, want hy word boosaardig aggressief op wingerdsap.
Johannes en sy vrou is vanaf die Suidkus, gedink al daai mense is Engels – maar as hulle monde oopgaan besef jy hierdie twee is deurnat erg Afrikaans. Sy het die een na die ander kamtige skeet. Ek dink sy smag na die ‘andersheid’ van hierdie vreemde dokters – of miskien raak sy opgewonde oor die aanraking van vreemdes? So ernstig wil sy as Engels opgeneem te word, dat sy vir mense vertel haar Pa is ‘n Katolieke Priester! Seker die mees Engelse-ding wat sy kan opdink; die Katolieke-ding?
Miems is blykbaar nie ene vir familie drama nie. Pas nadat sy hier aangekom het, het sy Bakkiesboek en sosiale media ontdek. Heeldag se ding; die elektroniese-bekruip-en-beloer wat sy aanvang. Ook nie gister onder ‘n eend uitgebroei nie. Sy het vir haar ‘n ander profile geskep en haar enkellopende suster wil nou met alle geweld die ‘ander’ persoon ontmoet wat nou sodanig in almal ‘belangstel’.
As gevolg van te min belangstelling is Nolene en Antoon net die anderdag wettiglik doei kant in Die Republiek, van mekaar en bed vervreem. Eensklaps kom kuier sy in vakansietyd met die minderjarige kindertjies vir Antoon wat nou so hard werk in die vreemde Akkra. Seker iets in hierdie vreemde bloedige hitte want sy herontdek Antoon se Adamslyf. Die liefde loop storm sterk. Antoon raak meer vreemd by die dag – hy boek af vanaf die werk en die sieknota lees Uitputting.
Ek ken iemand wat mooie-Monika direk geken het voordat sy hierheen getrek het. Sy was lieftallig, erg kerklik en sou geen vlieggie skaad nie. Hierso vermy almal wat haar ontmoet; die tweede ontmoeting. Sy het oornag kwaad geword vir die hele wêreld. As sy nog nie kwaad is nie, kan sy enige oomblik konfrontensioneel word. Terug op Krugersdorp is sy weer die kalm lieftallige Monika van te vore.
Ramatla is ‘n rissiepit Sotho vrou in haar dertigs. In Johannesburg was sy ‘n regte tierwyfie wat as direkteur drie van haar eie firmas bedryf het. Haar naam beteken immers “sterkte” maar hier in Akkra is sy hulpeloos soos ‘n voëltjie met ‘n gebreekte vlerk. Sy kan nou skielik niks vir haarself doen nie, en irriteer almal met haar patetiese houding.
Nou die dag het ek gaan tee drink by Belinda. Sy is wel gesproke, diep geleerd en effe onaktief. In haar sitkamer is reuse kleurfotos van ‘n sport-mal persoon wat rots-klim en valskermspring. Daar wens ek toe ek het ‘n suster met so noue verhouding. Hulle lyfies verskil met veertig kilogram. Stel jou voor my verbasing, toe ek verneem na haar fietse suster in al die fotos – en sy my vertel dis eintlik sy, vyftien maande van te vore!
Intussen het ek ‘n lys gemaak van mense wat weer hulle ou-self geword het na die wittebrood se snaakse gedrag. My gevolgtrekking is dat hulle net vreemder word soos die jare aanstap. So trek vas die sitplekgordels, daar’s interessante tye en aardighede wat in ons toekoms in Akkra voorlê!
ps: Hier is darem baie Suid-Afrikaners in Akkra. Hulle is nie almal ‘weird’ nie. Ek is seker net oplettend. Miskien trek ek die interesantes aan? Maar dan het ek baie van hulle nog nie ontmoet nie! Oeh – laat ek anderdag verel van die ander lande se uitgewekene expats!

Leave a reply to Klip Cancel reply