Mode grille, en poeding-walletjies…


Volgens I Scrap skriffel ek hierdie week oor mode(s)

In Akkra sien jy gou as iemand nuut aanland. Hulle wikkel ongemaklik in satyn, poliëster, chiffon klere wat soos kondome aan hulle lywe vasplak. Nuwelinge staan uit soos ‘n paal bô water- soveel so, dat die lokale mense verwys na nuwelinge as “Johnny just come”. Binne ‘n week besef jy hierdie bloedige humiede weer verdra net katoen en ligte linne as praktiese lap naby jou lyf.

Lap wat vasklou soos kondoom

Hierso laat vaar jy die modegier ten gunste van prakties-wees. Fyn sandaaltjies se bandjies, oorleef nie ons sypaadjies nie. Stukkende skoentjies forseer jou rooi gesig in die middel van die straat, om plastiek aanglip plakkies te koop.

As jy in RSA ‘n kantoor-poppie was en net swart pakkies in jou tas geland het, gooi uit, koop bont Afrika patrone. In Akkra trek mense net swart aan in ‘n rou tydperk of in voorbereiding vir ‘n begrafnis. Almal wil weet wie het gedood as jy swart aantrek. Sodra niks bymekaar pas nie – dan pas jy. Strepe en blokke, skel pienk en oranje – Afrika skrik nie vir kleur nie.

Colourful African inspired beads by Sylvie FranquetBeads
Internet foto: Colourful African inspired beads by Sylvie FranquetBeads

Ons staar na mooi mense en verstaar onsself na mode fratse. Toeriste ge-dress as skaap-getooi-soos-lam; In Amsterdam se strate is daar slim borde wat lees: In warm weer – trek aan wat jou lyf pas en nie wat jou hart begeer nie! Hierso loer ons net en gooi die wit-oog-rol.

Om nuwerwets te probeer wees help ook nie. Die mode aankopers van groot ketting winkels is sekerlik almal pas gegradueerde mode poppies met nommer ses lyfies. Hier in Mr Price is daar lewens-grootte leuens geskrywe op fênsie borde wat uitbasuin: “You can totally Rock This”. Maak wat jy wil, pôpo pas nie ‘n piesangskil nie. Neem waar: daai stywe winkelmannekynpoppe… daar’s meer spelde en plooi voue; as tanne in hulle monde; alles net om daai kleertjies mooi aan ‘n nommer ses lyfie te laat lyk.

My Ma sê: Spandex loop saam met yoga en “Wild Musk” brandstokkies. Sweetpak-goete hoort net in gimnasiums – en die fluweel-soort lyk soos sweet-ryperd wat geroskam moet word. Toiings werk net vir Rock-sterre en wille-aanties op tema-paarties. Vere loop met troues, doopkerk en matriek afskeid…en my Ma is nogals fênsie! As ek die self die reëls oortree, dan sorg ek dat alle leidrade daarvan, nooit op sosiale media vasgelê word nie. My Ma ken van Bakkiesboek!

Vir jare reeds weier ek om groter klere te koop, ek verneuk net my liggaam deur minder te eet. Ek vermy biltong, braaivleis, brood en soetpatats. Dis nie maklik nie. Jackie my vriendin sê sy kan drie-dag-oue brood vanuit haar kamer op die tweede verdieping in haar kombuiskas raak-ruik! Gewoonlik lewer minder-eet resultate, na so week, maar ek voel soos ‘n arm-blanke as ek aand vir aand my leë wynglas aanstaar.

Tussen skoonma en ek, heet ‘n wapenstilstand. Sy weet ek kyk mooi na haar seun want hy lyk nie ondervoed nie. My hande ken my Vrystaat-man se hele lyf. Vanoggend besef ek sy poeding-walletjies om sy heup is besig om te verdwyn. Dit laat my met ‘n dilemma: Koop kleiner Diesel-denims vir hom of bak meer gereeld poeding. Ek blameer sy nuwe roeimasjien wat my staan en tart in die eetkamer. Die ding is ‘n antieke kontrêpsie, kompleet met verstellings vir meer pyn en lyding. Na vyf minute op die martelmasjien, hyg hy soos ‘n hartaanval op bestelling; ek sit ek met my vinger op die ambulansdiens se noodnommer. My swak hart – jy kry my nie op daai ding nie. Trek eerder die strop om die nek stywer. Nul per mond, vir nog ‘n week.

My seun se bêk moet nie aldag jêm kry nie. Die storie moet met seep uitgespoel word want hy sê net wat hy dink. Ek dink ek is modieus, maar word vertel dat ek nou soos ‘n ou-tannie aantrek. Ek reken my a-simetriese langer lengte bloese, verdoesel my rolletjies. Hy reken ek lyk soos ‘n vlermuis wat aangefladder kom, en my knieë het dimpels. Ek het nou ‘n hele kas vol groen boerseep vir sy bêk, en ‘n klerekas vol langer Capri’s van Woolies. Dis ‘n lang kortbroek wat die knieë se ‘gesiguitdrukkings’ geheim hou.

Dis Wêreldbeker Rugby tyd, en basta met alle modes. Saterdag as die Bokkies op die veld uitdraf gaan ek daar sit met al my rolletjies, in my groen-en-goud-hempie vol wynglas in die hand, reg langs die braaivleisvuur!

When it's hot please dress for the body you have, not the body you want, thanks.

29 responses to “Mode grille, en poeding-walletjies…”

  1. Lankal het ek besluit dat die middeljare nie heeltemal so sleg is nie – ‘n mens moet net nie te veel na jou kniee kyk nie en ook nie te lank in winkel se aanpashokkies talm nie. Helder spieels en te veel ligte lei tot mismoedigheid en die nodigheid vir wyn…

    Liked by 1 person

    1. Ja nee. Iemand moet die argitekte wat ‘spotlights’ in aanpas hokkies inskets aan hoë bome ophang! Bid jou dit aan- spieëls reg rondom jou! Nee daai mense speel nie ‘fair’ nie. 😕🙈

      Like

  2. Ai ek het nou al te lekker gelees en my koppie skud op en af soos ek saamstem. Dankie… dit was lekker!

    Liked by 1 person

  3. Jy skryf so lekker humoristies!

    Liked by 1 person

  4. Dit was nou n hele belewenis om jou mode uitleg te lees. Al die pad lekker ge- glimlag. As jy nie regkom met die plak e spoeg van jou skakel nie sal ek dit hier kom kry en aan die wêreld bekendstel aan die einde van die week. Lekker man!

    Liked by 1 person

    1. gefix en sommer die bestuur ene al gespoeg en geplak

      Like

      1. Lekker man, jy raak nou bedrewe met die spoeg en plak. Ek het dit toe sommer gekry ook. Tien uit tien vir jou.

        Liked by 1 person

  5. Die driejarige kom ingeloop in die kamer toe haar verwagtende net oppad stort toe is.
    “Ma, jy is besig om vet te word” sê sy ondiplomaties.
    “Dis reg my skat maar jy moet onthou mamma het ‘n babatjie wat in my maag groei” probeer ma skerm.
    “Ek weet,” sê sy “…. maar wat groei in mamma se boude?”

    Like

  6. Gatiepie en Meraai sit op die sypaadjie in Adderleystraat.
    Gatiepie: Djirre, Meraai! Mar djy het darem baie varicose veins op djou bene!
    Meraai: Nei, dit issie vericose veins nie, dit is net die wiring na my hot-plate!

    Like

    1. eish – dan operate ek maar op sonkrag

      Like

  7. Koos en ‘n jong dame stap by die beste klerewinkel in Sandton in.
    “Wys ons jou duurste rok!” dring Koos aan.
    Terwyl die jong dame die rok aanpas fluister die winkelassistent in Koos se oor: “Meneer, daardie rok kos amper R100 000.”
    “Dis niks nie” fluister Koos terug, “ek skryf vir jou ‘n tjek”.
    “Dis reg so meneer” sê die verkoopsdame “Vandag is Vrydag, u kan Maandag terugkom om die rok te kom haal, indien die bank u tjek aanvaar.”
    Maandag is Koos terug in die winkel.
    “Meneer” sê die verkoopsdame verontwaardig “hoe durf u u gesig weer hier wys, daar was nie ‘n sent in u rekening nie!”
    “Ek moes net kom dankie sê” glimlag Koos, “dit was die beste blêrrie naweek van my lewe.”

    Like

  8. Ja – groen-en-goud hempies en die bokke, wat wil jy nou meer hê. Oulik geskryf oor modes. Lekker naweek.

    Like

    1. ek kan nie kommentaar lewer by jou skrywe op jou blog nie – ek is ‘n bont pou! Kolle en strepe en Afrika kleure…

      Liked by 1 person

  9. Lekker het ek nou gelag. Jou beskrywings is so in-die-kol!

    Like

    1. Dankie Christina ek waardeer die inloer en raaklees 🙂

      Like

  10. Baie goed, jou verwoording is in die kol!

    Liked by 1 person

  11. Hoe lekker lag ek vir Jackie!
    Ek dink jou seun en my dogter is groot vriende 🙂 Deesdae is ek te maer na haar sin, se ek is maerder as sy – sy verstaan nie… maak nie saak hoe maar die ma is nie, die ma sal altyd “oos-wes” kniee he… en niks van my is ferm en glad nie… lol
    Jitte ek lees alttyd lekker hier by jou,,,,,, wers so ek kan jou op “vleisboek” kry.
    Wat is nuut in die sogenaamde “vriendekring” ???

    Liked by 1 person

    1. ek kry net nie die Facebook link reg nie – weet nie waar om te gaan soek en spoeg en plak nie…ook maar blond! Dankie vir die raaklees. My een vriendin is so maer. Soms loer ek vir haar en wonder of my man van so model-vrou sou hou…maar dan as daai lig afgaat vergeet ek van inbind en eet want môre is dit oorlogtyd!

      Liked by 1 person

  12. Ek dink ek sal aard in jou dorp, ek hou mos van bont! (Seker ‘n kind van Afrika! ) 🙂

    Liked by 1 person

    1. Defnitief ‘n kind-van-Afrika!

      Like

  13. Bedankt voor je bezoek.Prettig geschreven en leuk om te lezen

    Like

  14. Lekker gelees….. maar nou is ek nuuskierig. Wat maak julle in daardie wêreld?

    Like

    1. My Vrystaatseun van ‘n man werk so orals oor Afrika. Hy ky na DSTV /Multichoice Afrika se belange meestal in Wes-Afrika en die eilande om Afrika. Ek fladder saam waar ek kan en vermaak hom met my ‘random’ lawigheid.

      Like

      1. Dit is nou ‘n anderste lewe. Jy kannie vervelig raak nie…. en sien wyer as ons wat op een plek bly 🙂

        Like

Leave a reply to natuurfreak Cancel reply