elke week ‘n ander tema van Toeka-Tokkel: Hierdie week gaat oor Bestuur
Op skool het ek my onverwags bevind in die debat-klub. Natuurlik was dit als die Afrikaanse juffrou se skuld dat ek tussen die klomp ‘nerds’ beland het.
Daai juffroutjie het eendag besluit ek het ‘n anderste mening toe ek protesteer oor al daai rooipenmerke wat sy so in my opstelboek krap. Ek was erg verontwaardig omdat sy nie wou toepas wat sy preek nie. Net die vorige dag vertel sy my dat Afrikaans bloedjonk is, ‘n lewende taal wat taalkundiges aanmoedig om ingekleur te worre met nuwe woorde in volksmond. Toe krap sy rooipen deur my woord ‘worre’ en trek dikstrepe en woeste pyle wat bokspring oor die blad. Dis toe waar ek haar nog ‘n mondvol gee – sommer so uit my eie mond.

Ek het mos bedoel om die sinne so aanmekaar to ‘skep’ en as dit my bedoeling was, kan sy mos nie my skryftaal so platkrap ‘om soos ander te skryf nie’! As my Pa daar naby was sou hy my gatvelle aan die brand geneuk het; kinders praat nie terug nie. Maar daai was koffie oestyd in Tzaneen en hy was doer vêr op die plaas, en ‘n E-merk was ook ‘n definitiewe brandgat. Ek is huistoe met ‘n ‘A’-vir-Afrikaans op daai rapport, en skielik het ek ‘n mening op als.
Debat-klub was ‘n georganiseerde knoeispul! Nerds wou die “Big Bang” teorie bespreek, maar daarvoor moes mens dik boeke moes deurwerk om nie soos ‘n idioot te klink nie. Die tema’s soos: mans is beter bestuurders as vrouens was brandlont onder ons. Al wat ek onthou is; die skoolhoof se slap mouterkar se langneuspunt was opgevrommel tot naby sy stuurwiel – die oggend van die groot seksistiese bestuur-debat. Die oujongnooi wat ingestaan het as debatsvoorsitter het geen bestuurslisensie besit nie, en ry toe al, dertien jaar haar Dutsin moutertjie skool toe; ongeluk vry.
Die “M” in die woord MANIAK en MAN en “M” vir mouterkar loop hand-aan-hand saam. Vrouens ry kinders rond en spandeer moontlik meer tyd in mouters, sodoende maak dit hulle waarskynlik veiliger bestuurders. ‘Beter’ is ‘n tameletjie van ‘n woord opsig self. Hoe verklaar ons die afwesigheid van vrouens in Formule-1 wedrenne? Beteken dit ons vrouens talm milli-sekondes te lank oor besluite agter ‘n stuurwiel, of dat twee ure se gejaag in sirkels nie ‘n meetstaf vir ‘beter bestuurder’ moet wees nie. Daai debat’s uitslag was ‘onbepaald’. Ons het toentertyd besluit om elkeen te hou by sy eie mening – ek is vandag nie so erg oortuig ek ry en parkeer baie beter as my man nie.

Hoe dit ookal sy, my Pa het my laat trekker ry, wa-sleep en Toyata bakkie opry, die oomblik wat ek oor die stuurwiel kon kyk. My lisensie het ek hoeka al ses maande gehad voordat hy saammet my in Pretoria se middestad wou saamry.
Vandag vertel my kinders met groot oë vir hulle maaitjies dat ek ‘n taxibestuurder in spits verkeer met ‘n moersleutel gaan aanvat het oor hy onverskillig voor my inja. Ek is die kalmte vanself in ‘n mouetrkar, as ons laat is, is dit maar net so. Vyf minute se laat kom gaat my nie twintig kilometer per uur laat vinniger ry nie. Tyd-steel is nie so ernstig soos diamant-steel nie. Maar boeta, as ek jou op jou foon sien stront aanjaag terwyl jy betuur, gaat jy my sien seine gooi, ligte gooi en in tale praat…

Vir jare het ek ‘n helder oranje ’74 Volla op Windhoek bestuur. Kalm en bedaard skoolkinners op en afgelaai, honne veearts toe gery en honne rondgery – sommer net met die vensters oop dat hulle windhap en ore-vlap. Verlede jaar verras my man toe mos vir Mammie en trek so sexy wit C-klas Mu’sadi Benz op die werf in. Net die mal-maltees mag saamry, Boerboel mag net oppie plaas bakkie en lorrie saamry, want sy hare bly orals agter.
Dis debatteerbaar of my bo-lip nou stink van grêndgeid, maar sjoe daai mouter is tog so gewillig. Mens kan mos ‘n ou Vollatjie koop en met ‘n vol tenk brandstof uitry vir die prys van een so blink-mouterdiens. Die spietkops het nooit gebodder met daai oranje Vollatjie nie – net so onder die boom bly sit – soos ridders van die skadubome. Nou as hulle daai plat wit slap mouter sien aankom – doen hulle moeite om op te staan en te mik met daai spoedkontrapsies. Ek bestuur nou erg versigtig want ek weet wat is die versekerings bybetaling van daai slap blink mouters.

Leave a reply to perdebytjie Cancel reply