
Ou Vaal Jan wat op my Pa se werf gewerk het, sal vandag sê: “Ounooi se hart is wit”. As my Pa beneuk was oor ‘n kalf wat uit sy kamp geglip het, en die koei droog gesuip het, was sy hart blykbaar swart. Ons kuier vir ‘n paar dae op die plot in Windhoek.
My kroos is om my. Die honne is sommer laf. Is so; my hart is spierwit.

Voor ligdag sit ek al op die stoep. Iewers naby die opstal is ‘n Nonnie uil wat roep. ‘n Klomp tarentale kom jaa mekaar rond. Met volmaan lyk dit iemand het ‘n lig iewers aangelos. Ek kyk vêr oor die werf. Volmaan kom die jakkalse nader want hulle lus vir die dik ganse. Die honne en die jakkalse speel kat en muis. Tussen die boerboel en foxsterrier is die twaalf dik ganse nog veilig.

Sonsopkoms is net ‘n prentjie. Die lug is aan die vlam, rooi en geel gemeng. Matteas klingel oor die werf met die melk-emmers en speensalf. Blommetjie die ou vrieskoei se nat neus groet hom reeds by die kraal se hek. Sy stoot en druk hom in die holte van die rug en staan gedwee dat hy haar agterbene riem en haar uitmelk.

Mens maak tyd vir ‘n tweede koppie koffie.
Ons wag die reën.
Buurman se beeste loop naby die lyndraad en bulk van die dors. Sy Kwa-jonges het sekerlik almal gaan ringkink en niemand het vir die bees hekke oopgelos vir watersuip nie. Namibië trek nog skouers op na ‘n lang vreksel van ‘n droogte. Ons het nou so terg reëntjie gekry, net genoeg om die melkkoeie nie te laat opdroog nie. Maar die goed in die stalle lyk sleg. Oupa gee byvoer maar die pense blaas op en net so weer af, net vel en been.

Skaap floreer in hierdie klip en bossie wêreld. Die swart ou ooi gooi altyd tweeling lammers af, maar dié jaar het sy sowaar een lam verwerp. Nou word daar ‘n hanslam ge-bottelvoer. Ouma steriliseer bottels en lamtiete soos toet se jare, en hanslam kry klokslag warm melk; vars uit die melk-emmers. Hanslam bly ‘n ougat ding. Jare later weet jy presies, vanuit die bondel watter ene was hanslam. Die res hol mos simpel in die kloof in, maar hanslam kom nader getrippel, staan stil en kyk jou effe diep in die oë.
Daar’s geelvinke in die treurwilgboom wat nesbou. Party staar heeldag na ‘n tv-skerm. Ons bekyk die nesbouery van swaeltjies en vinkies. Ander mense deel uit aan die kerk, gee hannevol munte vir vreksleg op straathoeke, dra aan by die dierekliniek; ek voer voëls; dis my ding. Gryskat en sy wolmaat sluip en bekruip die voëltjies maar die voëltjies bly slimmer en vinniger as die katte.
Oupa se diesel-bakkie met die valvlappe en seiltjie word nader getrek. Vandag ry ons die vullissakke weg na die dorp se vullisterein. Lyndrade word styfgetrek en die damwal moet versterk word. Werk is daar altyd genoeg van, werk wag nie, dit moet gedoen moet word.
Die Jack Russel kom trots aangetrippel oor die werf, met ‘n vreksel van ‘n Zebra slang in die bek. Die kop is reeds afgebyt. Die ander honne se opgewondenheid ken geen perke nie. Elkeen gryp ‘n stuk slang en hol in ‘n rigting en speel met die wikkellyf daarvan.
Gister het ons skaap geslag. Ons slag al om die ses weke, gans, hoender en skaap. Die aanwas en eiers is vir onse huis gebruik. Ouma werk die vleis en ons maak pakkies en sny vleis van die been af. Daar’s plak-vlieglinte wat vanaf die plafon hang. Die vleis word in blik geel enamel skottels gesorteer, en Ouma tel al haar Victoria Knox messe voor en na die slag. Mieta gaan sny spinasie uit die groentetuin.
Ons het vriende wat vanaand oorkom om ‘n rib te braai en ietsie te drink met sonsondergang. My seun slaan ‘n piekniektafel op, by die dam, voor die gaste aankom staan ‘n ysboks en gepoetse glase reg. Daar’s eend op die dam, sonspikkels op die water en die honne wat baljaar in die water.
Elke daglig oomblik word opgeslurp.

Na sonsondergang hang ‘n stilte en vrede oor die werf. Al die werk kom tot stilstand.
Iemand stort in die plaashuis.
Potte is uitgeput van stoom en prut op die gasstoof.
Honne lê uitgestek op die stoep.
Oor die werf hoor ons vêr-weg stemme van die volk.
Stadsmens vra my gister, “Nou wat maak julle so in die stilte? Raak julle nie verveeld nie?”. Ek dog sy maak ‘n grap, maar sien sy’s toe heel ernstig, want sy wag ‘n antwoord. Dis nie iets wat ek elke dag plan nie. Dit gebeur net; koffie drink, diere versorg, skoonmaak, regmaak wegry kosmaak en versorg.
Gedempte stemme op die stoep tot laataand, iewers lê vergete selfone en niemand wonder wat op TV blêr nie. Saterdag is vir TV-rugby kyk en nuus luister ons agtuur soggens en saans oor die draadloos.

My man het ‘n kampbedjie uitgetrek op die stoep hy kyk verskietende sterre, en loer vir kole wat gloei in die donker
Ons smag na die stilte. Dis nie vir ons ‘n probleem nie.
As jy die stilte nie leer ken nie, sal jy dit nooit verstaan nie.

Leave a reply to dalenatjie Cancel reply