Vakansie – varsgebakte brood vir jou siel…


Volgens Toeka-tokkel no2: Skryf ons oor vakansie

 

Meer kosbaar as diamante is vakansie herinneringe.

 

In my eerste foto van my as baba, sit ek op Durban se strand en sand eet. Op die kiekie dra Ouma ‘n swemkappie met bont rubberblommetjies, my Ma in ‘n sexy bikini en my ouboet staan ongeduldig met ‘n drup –roomys onder die sambreel.

 

Op ‘n volgende kiekie staan ek met ‘n skoothondjie in die arms by die Taalmonument. My Ma en ouboet is ook in die foto, en ‘n kleinboet is ook nou in die prentjie. Ek onthou ‘n kampvakansie met ‘n vaal groen tent langs ‘n vlak breë rivier. Ons wat in die koel water speel en ‘n waterslang wat kalmpies tussen ons deurswem. My Ma se ontsteltenis toe die apies van die kosvoorraad wegdra. Kleintyd onthou ek my Pa se uitbundigheid toe hy, ons met ‘n helder geel “Beech buggy” teen ‘n duin uitjaag. Ek onthou die hitte om oop kampvure op die strand en ons Doberman se nat swem lyf, saam op vakansie.

 

Kampvure, “Beech buggies” en honde is deesdae verbode op strande.

Screenshot 2016-01-23 17.43.30

So onthou ek ook, twee nagmerrie vakansies. Een daarvan ry drie gesinne al die pad na Mosambiek. Die voorafbetaalde woonplek is niks soos dit op die Internet geadverteer is nie. Geen lugversorging, geen krag, muskiete en sandvlieë wat ons lewendig opvreet, bamboes-beddens sonder matrasse en dronk studente met net een cd die hele vakansie. Daar word in die bakkies ingebreek en kontant gesteel, genadiglik los die boggers die paspoorte uit. Die kersie op die koek is ‘n man en vrou van verskillende gesinne wat sonder sweempie van skaamte ‘n verhouding aangaan en almal skielik op eierdoppe rondstap. Wat ‘n gemors van ‘n vakansie!

Die ander goor vakansie was in Swakopmund toe frats-weer ‘n hele tien dae opklits. Ons ouers en my broers met beide se families kom al die pad van die Republiek af deurgery, en skielik reën dit in millimeters in Swakop. Daai plek kry maar gemiddeld 3mm reën per jaar en in twee dae kry die kus dorpie skielik 10mm!

 

Almal sak winkels toe vir iets warms om aan te trek want die seestorms se winde woed in die strate. Geen visvang kans nie, almal bibber en beef en sit soos nat hoenders in ‘n bondel. Die gemoedere loop hoog en almal is vies en byterig. Niemand kan sonbruin of raak-rugby op die strand speel nie. Die fênsie blink mouters uit die Republiek gly en sit vas in die sout-strate wat oornag in modder en snot verander het. ‘n Ongeluk met 4×4 duine motorfietse in die duine het ‘n duur hospitaal besoek op hande. Almal vra heeltyd wanneer sal die weer draai en tien dae later is die familie druipstert en mislik weer terug na die Republiek.

 

Jy kan nie by die huis vakansie hou nie. Na twintig-jaar moes my man volgens sy firma se personeel reëls op ‘n ‘sabatsbreuk’ gaan vir 12 weke.   Die kinders moes skooltoe gaan en ek moes werk, daarom het hy nie weggegaan nie. Op die 4de week het hy vir die eerste keer effe later geslaap. Hy het elke dag die kinders skooltoe geneem en koerant gelees in koffiewinkels. Meestal het hy lostakies op die dorp verrig vir my en sy ma. Na drie weke is sy verveeldheid op breekpunt en is hy terug werk toe, en hy ‘bank’ toe die verdere drie weke.

 

Vakansies hoef nie duur te wees nie. Net anders. As jy in die stad woon, gaan kuier in die Karoo op ‘n plaas. As jy op die Rigtersveld woon, gaan ry die Gautrein en gaan ysskaats.

 

Elke ander reisagentskap offer gedurig spesiale aanbiedings. Ek reken ‘n mens moet uitvind wat is die goedkoopste manier om die verste te reis. Reis na vreemde plekke, klim, klouter, skie, grou, swem, duik, snorkel, vang, fotografeer skryf en onthou, maar gaan. Dis brood soos vars gebakte brood vir jou siel.

12 responses to “Vakansie – varsgebakte brood vir jou siel…”

  1. Ja mens hoef nie baie geld uit te haal Dit moet net anders wees

    Liked by 1 person

  2. Mens kan lekker by die huis vakansie hou…beplan elke dag ‘n spesiale uitstappie.Oulik geskryf!

    Liked by 1 person

    1. Dina, Jy’s reg, die geheim is mens MOET iets beplan. As jy net aankap is dit ‘n gemors.

      Like

  3. Mooi geskryf. Vakansie is tog maar veronderstel om anders te wees as net die normale. Mens kan boekdele skryf oor vakansies. Jy het beslis n lekker klompie hier beskryf! Dankie vir jou deelneem aan Toeka-Tokkel. Gaan dit ekstra opsit.

    Liked by 1 person

    1. Dankie, ek waardeer die idees!

      Liked by 1 person

  4. Een cd vir die hele vakansie haha. Snaaks, hoe ouer jy word, hoe meer is daar irritasies wat jou teen die mure kan uitdryf, maar die vakansies van jou kinderjare was perfek, selfs al het jou roomys afgedrup voordat jy kon lek. Jy het my nou lekker laat terugdink aan die gesinsvakansies van my kinderdae, dankie.

    Liked by 1 person

    1. Na dese is ek niks meer lekker vir Kurt Darren nie….net te veel op een vakansie van hom 😦

      Liked by 1 person

      1. Ek neem jou nie kwalik nie ;P

        Like

  5. Vakansie saam met die “verkeerde” mense kan nogal erg onsmaaklik raak. Ek het dit in Desembet ondervind….

    Like

    1. Die probleem is dat mens nie altyd net in jou karretjie kan klim en wegry nie.

      Liked by 1 person

      1. Ek het dit duidelik gemaak dat dit die laaste vakansie saam was… nooit ooit weer

        Like

Leave a reply to rondomtaliedraai Cancel reply