Wat is op jou kassie?


In opdrag van Scrapydo: Week 12 – Slaapkamers

Boekwinkels en biblioteke se reuk toor met my.  Miskien is dit die mot in my want ek word vasgevang om in dowwe sirkels, in sag lig, my draaie deur hulle te drentel.

So kom ek eendag af, op ‘n koffietafel boek vol kiekies wat op mense se bedkassies rondstaan.  Blykbaar kan één kiekie ‘n beeld weergee van jou hele persoon.

Dis so persoonlik.  Bed-opmaak doen ek sodra ek opstaan, maar as Carla gou in my kamer wil instap, wonder ek altyd of my slaapkamer geheime om my bedkassie weggegee word.

Op my kassie is ‘n stapel boeke en parfuum.  Ek lees gereeld meer as een storie op dieselfde tyd.  In die badkamer-terwyl ek wag vir badwater om in te tap, of kombuis-wanneer ek vla omroer; tel ek net ‘n boek op. Onlangs het ek vir Jo Nesbo raakgelees en nou verslint ek al sy skryfsels.  Daar is ook ‘n blink tinfoelie pakkie met bloeddrukpille en ‘n glasbottel drinkwater.  ‘n Ikea leesliggie met ‘n kameelnek en ‘n LED helder bulpie.  ‘n Leesbril en sjokelade.

My Vrystaatman se bedkassie lyk asof hy dit nounet ingeskuif het.  Daar staan net sy leesliggie, sy beursie en sy telefoon wat hy herlaai.  Niks anders nie. Hy’s verwoed minimalisties.

My Ma se bedkassie is dit net pille, poeiers, parfuum en nagrome.  In haar skadu-jare ervaar sy gesondheidsprobleme al is sy nog – in my opinie: die mooiste vrou.

Carla my vriendin se bedkassie vertoon tarrotkaarte, pêrelstringe, bonkige juweliersware, haarrekkies en haarkamme. Telefoon kabels en kougompakkies, simkaarte en ‘n handvol Baht munte. ‘n Malkop wilde sorgvrye reisiger, daardie ene….

Op my seun se bedkassie, in ‘n dik stoflaag is ‘n foto van ‘n meisie, pakkies sigarette, sy pyp, ‘n asbak, beursie, vaal munte en sy telefoon. Niks misterieus omtrend hom nie.

Nou wat sê die slim mense as mens geen bedkassie het nie?

Die huurplek in Akkra se slaapkamer is ruim en prakties. Ek is ‘n regte naguil en hou van laataand lees. My nagliggie se ligstraal pla manlief.  Slaap kom oorval die Vrystater met moeite, en ander halfuur beginne hy rusteloos omdraai – dis my teken vir ligafskakel voordat hy steun en kreun, en ek skuldig voel.  Hy reken ek is die mens wat die ‘gou-aan-die-slaap-val’ rekord hou.  Tussen regopsit en my kop kussing vat, val ek aan die slaap.

‘n Paar jaar gelede het my Vrystaatman een reënmiddag die TV van die muur in die kamer afgehaal en onder die arm mee uitgestap.  Dit was die laaste van ‘n TV in die kamer.  Elke  slim vrou weet watter bekgevegte sy kan wen…

Onlangs het ek my esel en verfkwasse in die kamer kom staanmaak. Die lig is net reg, musiek is altyd aan die speel en die groot vloerteëls hou die kamer lekker koel.  Solank die verfpotte en kwaste netjies weggepak word, is daar geen kommentaar van die kamermaat nie.

As ek my sin kry gaan ek ‘n paar slaapkamer veranderings aanbring as ons eers weer in Windhoek se plaashuis woon. Die klerekaste moet ‘n sagte binnelig aanskakel sodra en die kasdeure ooptrek.  Daar moet ‘n ekstra ligskakel aangebring word wat ‘n sagte lig agter die bed se kopstuk aanskakel sodat ek voor ligdag met kalmte kan wakkerword.  My gordyne gaan ek verander sodat dit pikstikdonker kan wees as dit toegetrek is.  Ek smag na ‘n outydse waskom en wastafel en weet presies waar ek moet gaan snuffel om een te koop.   Miskien moet ek die muurversierings effe opdateer, ek voel ‘n smeulende Marilyn Monroe hoort ‘n ereplek iewers op ‘n muur.

Ons slaapkamer het ‘n deur wat direk op die werf uitloop.  Mos maar ou plaashuis.  Daardie oudeur wil ek vervang met ‘n mooie houtdeur met Franse glaspaneeltjies in.  In die somer staan die deur oop sodat die koellug kan deurtrek.  Op sy tyd sal ek die sekeuriteitslig verder van die kamer skuif om die tarrentale stil te kry.  Dis ‘n nuwe streep van ‘n paar tarrentale wat met skrilstemme mekaar beledig die hele aand.   Die probleem is die dat dieselfde swaeltjies jaar-vir-jaar daar op daardie sekeuriteitslig kom broei en nesbou.  Ons lê vroegoggend en luister die voëltjies.  Beste plan is seker om die lig daar te behou en met die koord af te knip. Daar staan ‘n groot boekrak in die kamer.    Huidiglik het ons ou teekiskassies, op die sy gedraai, met net plek vir ‘n ronde 40 watt vaalbedliggie. O-ja, ek soek  ‘n reuse wit muskietnet wat oor die bed pas… Nie oor muskiete pla nie – ek dink net dis romanties…

Noudat laataand lees uit is, is dit tyd om daai boekrak uit te gooi en meer praktiese bedkassies aan te skaf.  Miskien bring die veranderings nuwe geheime en idees… mens weet nooit.

 

 

17 responses to “Wat is op jou kassie?”

  1. Ek het nou heerlik gelees oor al jou bedkassies en hoe dit “gelees” kan word. Dankie vir die lekker kuier bly jy het geskryf!

    Liked by 1 person

  2. Ek het nou lekker saam sielkundige ontledings van persoonlikhede gedoen. Ek spandeer nie veel (wakker) tyd in my slaapkamer nie en die uitleg is maar taamlik onpersoonlik. Ek het ook pas Jo Nesbo ontdek (Headhunters was die eerste). Ek het ook die probleem gehad met ‘n man wat kla oor my leesliggie – my raad is: kry ‘n kindle met ‘n ‘backlight’ en / of ‘n ipod. Ek raak vele kere aan die slaap met my oorfone aan (dit help om lastige snorkgeluide en so aan uit te skakel). 😀

    Liked by 2 people

    1. Daai oorfone vir die snorkgeluide is ‘n uitstekende plan!

      Liked by 3 people

      1. Ek sal oorfone vir my man kry… Hy tik-tik my so op die skouer en sê “Liefie- draai om”

        Liked by 1 person

      2. Dis baie liefies van hom!

        Like

    2. O Hester, in Nesbo se Harry Hole reeks pla dit my net dat ‘n jong wipgat Sweedse meisie haarself sal vergryp aan ‘n naby sestigjarige man…Ek moet vir hulle proeflees…!!! My lewe- ek kan nie op kindles en elektroniese goete lees nie. Het al probeer meer eks outyds en hou van blaaie wat kreukel. Gee my ‘n koerant of ou Huisgenoot.. Ek lees elke doodsberig en elke artikel…

      Like

      1. Ja nee, ou Harry is ook nou nie my idee van ‘n held nie, maar dit werk. Ek het nog net een boek in die reeks gelees – The Snowman. Tyd is altyd ‘n probleem. Ek staan en lees gewoonlik in die ry by die bank of terwyl ek by die hospitaal vir my man wag – vandaar die kindle. ‘n Boek sal net verniel raak.

        Liked by 1 person

  3. Ek het lekker gekuier in jou kamer!
    Waneer gaan julle weer in Windhoek se plaashuis bly?
    Vrystaat, Akkra, Windoehoek – mmmm baie interessant….

    Liked by 1 person

    1. Ons sal sekerlik in ‘n jaar en ‘n half finaal klaar maak in Akkra- my man is hier gebasseer maar hy reis in Wes Afrika en Dubai en someer om die werk gedoen te kry. Ek rits saam soveel ek kan. So iewers in volgende jaar is dit ek en daai tarrentale. Ons het in tussen sy ouers vanuit die Vrystaat ge-“import” na Windhoek. Dit was nie maklik nie. Hulle het ster-posisie ingeneem en al skoppende aangeland. Geke oor hulle kerk en dokters en vriende en ons moes hulle maar net boelie. Na omtrend 6 maande tot ‘n jaar het hulle al hoe minder begin SA nuus kyk, ingeskakel met die kerk en nuwe vriende gemaak. Noú kop hulle van oopdeure slaap en glasvensters oopskuif in somer aande. Plaasmoord dink hulle nie eens meer aan nie. Hulle Skype deesdae familie in die Republiek. So een ban die dae…ons en Windhoek se Weiss Beer. Die probleem is net watse werk sal ons doen?

      Like

  4. Nog nooit so oor bedkassies gedink nie…myne is vol boeke en leesbrille…🤓🤓

    Liked by 1 person

  5. Ai man, maar jy skryf te lekker! ‘n Bedkassie is gemaak vir ‘n liggie – ‘n behoorlike een – en storieboeke..o ja, en ‘n leesbril, ‘n glas water, of / en ‘n glas wyn…

    Like

  6. Naast mijn bed liggen stapels met boeken.
    ‘s Nachts ligt mijn mobiel aan de oplader.
    Ach, als mijn hoofd op mijn kussen ligt neem ik nog van alles door.

    Vrolijke groet,

    Like

  7. Ugh..well, the translation confuses me :mrgreen:
    One thing, though: [pic-wise] is that how the rental room in Accra looks like? How spacious!

    Liked by 1 person

  8. ook ik hb heel wat boekn in slaapkamer voor de d&agen d

    Like

    1. Sorry,wat een brabbeltaltje was dat
      Ook ik heb veel boeken in de slaapkamer voor de dagen dat ik niet in slaap geraak

      Like

Leave a reply to Toeka-Tokkel no 13: Hele April”Blogging from A -Z” – I scrap 2 Cancel reply