Die Duiwel met ‘n troffel in die hand …


t

My Moeder het ‘n sê-ding in die huis gehad wat iewers vasgeslaan het. “As die son sak in die Weste is Daniël op haar beste”. Wanneer nagkrieke begin gil ‘die dag is verby’, raak ek kriewelrig. Mens kan nie net so op jou eie spoed aandobber nie. Jy moet iewers ietsie aanvang, waarna jy eendag op die stoep kan verwys – en sê: Dáár, doeikant, het ek ‘n steep in die stof agtergelaat wat iemand se dagplan verander het.

 Screenshot 2016-11-12 13.53.07.png

Kyk onse expat tannies moet mos heeldag handjies gevou sit en huis-huis speel, tot vanaand wanneer manlief tuiskom. Sou ons nou ‘n wettige werkspermit toegestaan word, is dit soos die kossies uit ‘n lokale werker se mond uitpluk. Werkspermitte is so skaars soos hoendertanne – net een per gesin is die standaard. Werk ons iewers vir ‘n geldjie dan gooi immigrasie jou en manlief -sonder fieterjasies landuit! Mense klik graag opmekaar, want die son mog mos nie op almal gelyk skyn nie. Nou vind ons ander maniere van onsself vermaak.

Ons sit gratis en verniet ons vlytige hanne en koppe bymekaar om besig te bly. Enige ietsie wat ‘anders’ is vind aanklank. Naaldwerkgroepe, verfkunsklasse, kaartspel, mahjong, tennis, maratonne, teedrink, Yogaklasse, stapgroepies, vroue aksiegroepe, Bybelstudie – noem maar op; ek ken iemand wat dit aanvang. Ledigheid is immers die Duiwel se oorkussing.

Ook bang ek mis op ietsie uit – rits ek eendag saam diep bos toe. Anderkant drie ure se ry uit Akkra, gaan ons op ‘n uitstappie van een van die vrouegroepe wat ‘n oorslaap in ‘n een-ster-hotel insluit. Ons gaan bekyk die aanbou van ‘n kraamkliniek wat so in die stof staan tussen die gehuggies. Met die intrapslag sien ek iemand smokkel met iemand anders se bougeld. Nie een van die vensters is op dieselfde hoogte nie, skewe mure en nie een van die deure is dieselfde breedte nie. Selfs die boublokke in een muur is verskillende groottes.

Ek sê toe nou so ingedagte vir die vrou wat naaste aan my staan dat die Duiwel mos aan mens verskyn in die vorm van ‘n slimgatbouer met ‘n troffel in die hand. Yak-yak-yak gaat ek aan oor als wat ek verkeerd sien.

So werk dit mos uit dat die tannie wat so aandagtig luister na my wat so oorlams my gedagtegang staan en vertel – ‘n Kanadees is wat geld uitdeel aan die manne wat daar bou. Nou kyk, as jy so dom is soos toffie, dan moet jy gekou word! Mens kan nie net geld vanuit Torronto aanstuur en vertrou mense sal dit mooi spaarsamig en met oorleg op ‘n bouery spandeer nie.

Lang storie kort, het ek nou die Kliniekbouprojek oorgeneem en red wat daar te redde is. Eers moes daar reggestel word met ‘n dun begroting, want die stoute kabouters het diephand in die koekieblik gedêps, blink mouters gekoop en sommer lekker gaan vakansie hou met die projekgeldjies.

Hou nou ingedagte: hierlangs is nog ‘diep donker Afrika’ waar almal nie noodwendig skoolgaan en leer lees en skryf nie. Dit geld beslis nie vir baie vissermanne en lokale boere nie, hulle het wel kinders op strepe, want meer kinders is meer hanne wat kan werk.  (Moet nou nie my kop afbyt nie; ek sê nie alle mense van Ghana is ongeletterd en bar nie, ek sê: in die deel waar ék bou – is dit afgeleë soos Mozambiek twintigjaar gelede…)

Mense in die landelike omgewings besit nie noodwendig ‘n mouterkar nie, en twintig kilometer tot op die naaste dorp is nog steeds ‘n dagreis vêr. Natuurlik is die plek eksponenteel vrugbaar, want in daardie areas is tweelinge en drielinge nogals algemeen. Lokale mense in die landelike gedeeltes, tradisioneel; besoek vrouens nie hospitale en klinieke nie, hulle steun op voedvroue en moeders in hulle eie gemeenskappe en omgewing.

So die noodsaaklikheid van klinieke verder uit die groot dorpe is ‘n lewenslyn vir menigte. Die taak is enorm, iets so onwerklik soos om ‘n olifant op te eet. Maar dit kan ook gedoen word, oor ‘n lang tyd… happie-vir-happie. Dis presies hoe dit nou is: ons bou een-boublok-op-‘n-slag.

Kliek hier om die bouery te bekyk

Wanneer my Namibië-vriende vra wat doen ek heeldag, dan vertel ek gedwee, ek trek stofstrepe in Afrika…

 

** (Op die Storie voorbladfoto is Prince Attah – ‘n trotse bouer  uit ‘n ‘Village’ in Ho, Volta Distrik, Ghana. Hy kan lees of skryf nie.  Maar hy kán bou.  En hy kán self plan maak.  Hy’s toevallig die orrelspeler in die EP Church, met daai einste bouers hande van hom.  My opskrif en foto het vandag niks met mekaar te doene nie…)

(Mense kan op facebook gaan loer en kiekies kyk van die Kliniek se bou: Snuffel na Canadian Friends of Adaklu Waya

https://www.facebook.com/groups/1392167074390195/) ‘

planning and checking meassurements and quotes.JPG
Daar’s niks ‘glamerous’ omtrend die bouery nie – net kophou en kalm bly…

18 responses to “Die Duiwel met ‘n troffel in die hand …”

  1. Sjoe, hoed af vir jou! Baie sterkte met die projek, dis wonderlike werk, waar dit regtig nodig is.

    Liked by 1 person

  2. Fijn om weer iets van en over jou te lezen.
    Succes met je project.

    Vriendelijke groet,

    Liked by 1 person

    1. Ai Tina – in die land van blindes is een-oog Koning(in)… 🙂

      Liked by 1 person

      1. Hehehehe WAT… is ek blind? 🙂

        Liked by 1 person

      2. Omdat van hulle nie kan lees nie- dink hulle ek is ‘engineer level’ omdat ek planne kan lees. Ek werk in meters en centimeters, maar hulle is nog in inches and feet. Dis so moeilik vir hulle om om te swaai. Ek kan in beide werk. Sien… ek is die een-oog-Koning!

        Liked by 1 person

      3. Grinnik… ek het sommer gespot met jou!

        Like

  3. Prince Attah se toegeneentheid teenoor jou is duidelik uit sy foto te lees.

    Liked by 1 person

    1. Hy’s erg beskermend, ‘n wyse ou Uil. So kalm en bedaard en baie trots dat hy ‘n bydrae kan maak in sy gemeenskap.

      Liked by 1 person

      1. Ai, dis baie kosbaar…

        Like

  4. Dis briljant, Daniël. Kyk net die deur wat wawyd vir jou oopgegaan het. Sjoe, ek stem saam met al jou ander kommentare. Sterkte, maar meer nog, geniet dit.

    Liked by 1 person

  5. Kostelik!

    Like

  6. Heng maar jy is oulik en baie besig, geen wonder ons hoor so min van jou nie. Sterkte en geniet dit!

    Like

  7. Net mense met kroniese lae bloeddruk moet ‘n bouery onderneem!

    Like

    1. Of dié wat so plat botteltjie witblits onder die mouter se sitplek rondry

      Like

Leave a reply to Toortsie Cancel reply