Winkel in die boom…


Verona is die trotse eienaar van die ‘Tree Boutique’ op die straat, vyftig-meter vanwaar ek woon.  Ses dae ‘n week is sy op die sypaadjie onder ‘n reuse koelteboom, besig om haar ware aan die takke van die boom op te hang.  Wat ‘n skouspel van kleur en patroon!  Haar seuntjie van twee, speel heeldag, al om haar rond.

Dis koel – die windjie draai en swaai die bont goete vrolik in sirkels.  Soos ‘n by na ‘n blom, kan mens nie help om te gaan loer wat sy dié week op haar tafeltjie uitstal nie.

Sy verkoop handgemaakte juweliersware, geweefde frokke, gekerfde olifantjies, bont krale en ander fieterjasies.  Daar is helder grasmandjies om van te kies en te keur.

IMG_3358.JPG

Niemand gaps ietsie van haar tafel af, wanneer sy wegstap en vir haar kind gaan kosgee nie.  Sy pak nie eens op as dit so effe motreēn nie.  Die boom is defnitief dig genoeg om te keer dat haar ware deurnat word. As die swaar reën dryg is dit ‘n ander storie – almal hol nader en help Verona om gou als vanaf die hoë takke te haak en vinnig weg te pak.

Almal ken mekaar op ons straat, mense knik vir mekaar ‘n groet, of roep jou naam uit en vra hoe gaan dit met die kinders.

Oorkant haar winkeltjie is ‘n konstruksie span aan die gang.  Afrika-musiek speel kliphard op hulle lorrie se radio.  Hulle is druk besig om ondergrondse kabels te lê.

Kabeltrekkers.JPG

Daar is ‘n geel-gifappel-help wat verbygestap kom…Simeon is sy naam.  Hy dra ‘n klein hout kissie in sy hand, en met die ander kap hy ritmies so in die stap met ‘n plankie – so in die stap.  Klap-klap-klap…

img_3366
Simeon was te skaam dat ek ‘n foto van sy houtkissie se inhoud neem, maar ingestem tot ‘n foto van hom as “he is working”, bedoelende so in die stap wanneer hy sy kliënte laat weet hy stap straat-af…

Almal wat ‘n stukkie leerwerk wat uittorring of stomp messe of skêre het, kan hom nader roep.  Hy stap heeldag rond opsoek na kliënte wat sy dienste kan benodig.

Vir ‘n kleinerige bedraggie sal hy sy houtkissie oopbêk trek en stradig en ritmies messe slyp.

Diep daar-in die kissie is staal naalde met geboē plat punte en nylongare waarmee hy speletjies maak van handgemaakte leergoedere se nate wat los torring.

Baie mense hierlangs besit handgemaakte leer aktetasse, en dra handgemaakte skoene of leersandale.

 

Waar wonder ek,  kan mens nog skoenmakers, leer bewerkers, bakkers, beeldhouers so op straat raakloop?

10 responses to “Winkel in die boom…”

  1. Alweer ‘n lekker storie ! Nou wonder ek natuurlik weer hoe vervoer Verona al haar goedjies. Sy het ‘n gesonde voorraad daar…..

    Liked by 1 person

    1. Ek stap netnou uit op straat en vra haar sommer 🤗

      Like

      1. Gaaf laat my weet……

        Like

    2. Sy vertel dat sy dit in daardie groot Afrika-nylon sakke inpak, en al drie van hulle elke aand huis toe dra. Sy woon nie te vêr vanwaar haar winkeltjie is nie.

      Liked by 1 person

      1. Kan jy dit glo, ek het soveel respekte vir haar. Waar ‘n wil is is ‘n weg. Dankie!

        Like

  2. Die prentjie wat jy hier skets, Thulana, is ook die een wat ons in Suidoos-Asië raaksien. Dit doen my so goed om te weet dat Afrika nog so kan wees. Gemaklik met mekaar, met geen wantroue, en meededeelsaam. Geniet elke oomblik van hierdie wêreld waar jy nou leef. Dit bly ñ voorreg.

    Liked by 1 person

    1. Dankie – ek moet ruiterlik erken dat ek die mense vreeslik geniet. Wat ‘n voorreg om iets anders te beleef, en op ‘n ander plek so iets van ander en myself in die proses te leer.

      Liked by 1 person

  3. Jou stories bly wenners. Ek looove markies en koop graag by die locals

    Liked by 1 person

    1. Hie-hie my man sê ek koop ‘kakkies’ maar ek deel als uit as ek huistoe gaan. So ‘ietsietjie’ van diep Afrika, en deel uit!

      Like

Leave a reply to Daniël Bezuidenhout Cancel reply