Voorvaders, skud wakker!


Aardige goete kom oor jou pad wanneer jy hierlangs in Afrika kerjakker. Tien teen een het die meeste gevalle iets te make met ‘n lokale tradisie wat ons oorbluf en nederig laat. Dis ‘n groot eer om vir ‘n geweide tradisionele begrafnis genooi te word en ‘n erge sosiale blaps om so iets van die hand te wys.

 

Sien, desjare; in Namibië, het ek my brood verdien deur kiste te bou. Sekerlik daar vandaan my beheptheid met begrafnis goete.

 

‘n Goeie vriendin word uitgenooi na die begrafnisdiens van ‘n kollega se afgestorwe moeder. Haar uitnodiging is in boekvorm, ‘n hele agt-en-veertig blaaie boek, gedruk in volkleur! Daar binne is skoolfotos, en name en kontak nommers van haar alumni, studentejare fotos, familiefotos, werksplek-en-kollega fotos, ‘n opsosommende biografie, handgeskrewe finale groetbriewe van haar kinders en kleinkinders, kerkliedere en die drie-daagse begrafnisprogram.

 

Hierdie ter aardestellingbesigheid begin met ‘n huisbesoek van die afgestorwene. Daar is geen parkeerspasie opstraat, menigte sekeuriteitswagte wat almal arms swaai en jou uitbundig welkom heet. Statig met ‘n arm vol blomme hoor jy die musiek voordat jy die huis met kermistente om die draai raaksien. Al die ander besoekers het enorme groetekaartjies, daai ou soort te vinde in onse Ouma se kartonboks op die solder met blinkertjies op. Die gaste is uitgedos in hulle beste vere en Europese leër handsakke.

 

Begrafnisse is nie stil stemmige affêrtes nie. Daar word oorverdowende pols musiek gespeel sodat die voorvaders wakker kan skud en ‘n plekkie regmaak vir nog ‘n familielid. Die grootste ontnugtering is beslis om die bejaarde afgestorwene kierts regop in die sitkamer se hoek aan te tref. Uitgedos in ‘n spierwit klok-uitskop trourok, sit sy; stok styf. Oë bot toe met erge blou eye shadow op die toe-ooglede en bloedrooi lipstiek merkbaar onder ‘n kantsluier. Gansvel-in-die-nek en hand-oor-die-mond kan jy nie help die petalje sylings met swak kieë aan te staar nie. Kennisse en familielede gaan sit langs die afgestorwene, lê ‘n hand sag neer op haar hand in spierwit satyn handskoentjie, en groet met ‘n grappie, sagte piksoentjie of fluister boodskap aan ‘n weggevalle voorvader. Daar word rondgestaan met paierborde, en glase geskink en ys bygegooi. Mens knik en loer piering-oog want die musiek blêr meëndoonloos.

 

Die volgende oggend, hervat die program in ‘n reuse kerk. Kompleet met besige waaiers, en reuse vertoon skerms waarop die fotos flits en liedere vertoon. My vriendin dra haar begrafnisgesig, uitgedos in fraai pienk, en pikante handsakkie vol sneesdoekies. Sy word heel voor as eregas tussen vreemdes in ‘n kerkbank geplaas, en steek uit soos ‘n seer vinger. Tradisie bepaal dat jy swart, rooi of wit, of ‘n kombinasie daarvan aantrek wat gepaard gaan met die afsterwe ouderdom van die afgestorwene.

Screen Shot 2017-07-18 at 12.08.31 PM
Rooi en Swart waks-lap vir begrafnisse

Mense links en regs van haar groet haar vriendelik en vra uit na haar naam en familie se welstand. Tydens die Engelse erediens sing mense uit volle bors. Kore sing, haar skoolkoor, kerkkoor, vriendinne sing-koor, kollegas sing-koor, en na elke optrede kom iemand met ‘n karton dosie om, en kollekteer bydraes vir die begrafnis onkostes.

 

Kindertjies sluip na buite en hol soos goggatjies uitgelate op die grasperk rond. Neffe later word die groetbriewe in die program voorgelees deur die kinders en kleinkinders. My vriendin huil nou onbeskaamd vir die beker, die mense om haar stuur snesies aan, en gee die rukskouertjies elke dan en wan ‘n ondersteunende drukkie. Almal óm haar huil. Mans, vrouens en jongmense blaas en vee almal in reuse spierwit sakdoeke.

 

Daar word ordelik, ry-vir-ry opgestaan en statig verby die oop kis gestap. Die meeste huiwer vir ‘n oomblik, en prewel ‘n laaste seëngroet, sommiges staar, kink en stap aan. Die afgestorwene lê sag en vreedsaam in ‘n groot grys krulpruik, en sagte ligpers kiskleed. My vriendin huil nou oop-ketel en maak op vir al haar vorige woerts warts begrafnisse wat sy bygewoon het. Twee-ure later word die kis voor in die kerk deur die seuns dig gesluit. ‘n Goue sleuteltjie word plegtig aan haar wewenaar oorhandig. Die familie lyn-op en begelei die kis na die wagtende lykswa. Kalm en geweid staan die gaste op en stap ry-vir-ry na waar die kindertjies jillend op en af hol. Uitgehuil is die sonlig die mooiste ding om te sien.

 

Vandaar beweeg net die naaste familie vir die ter aardestelling, terwyl die gaste die boem-boem partytjie begin by die huis met al die krismistente en kreunende kostafels. Hier volg ‘n uitgelate deurnag okkasie, hanne in die lug gegooi, gesing en toesprake gelewer, gedans en gekuier.

Screen Shot 2017-07-18 at 12.10.13 PM
Begrafnis partytjie in wit – vir ‘n 75+ jarige

 

Tradisie gee die meeste mense hierlangs ‘n lang meetstok: soms piets die stok jou katswink maar daardie selfde stok hou andere kierts regop.

16 responses to “Voorvaders, skud wakker!”

  1. Dit was nou leersaam!

    Like

  2. Fassinerend! Ek dink ons ingehoue droefheid maak die verlies nog seerder en ek’s bly jou vriendin kon daarvoor opmaak.

    Liked by 1 person

  3. So interessant! Dankie vir die deel. Ons het bang vir die dood geword, alhoewel dit ons almal oorkom. So moet dit wees, die dood en die lewe tegelyk vier.

    Liked by 1 person

    1. Na dese wil ek ook een graat paartie hê

      Liked by 1 person

      1. Jaaaaa! Sal dit nie cool wees nie?

        Like

  4. Awesome. Dis dan wat ons grootmaak-moeder Dora bedoel het as sy laat weet het dit was ‘n “lekker” begrafnis en sy sal Maandag te moeg wees om te kom werk. Lekker gelees.

    Liked by 1 person

    1. Netso, een jeerlike paartie. Kan nie wag vir die volgende begrafnis nie.

      Liked by 1 person

  5. Zo wordt afscheid nemen overal weer anders gedaan.

    Vriendelijke groet,

    Liked by 1 person

    1. Netso Rob, elkeen so op sy eie tradisie en manier

      Like

  6. Hoeveel van ons eie tradisies goi ons nue weg met ons gejaagde leefstyl nie!

    Like

    1. Laat mens dink né, jong bruid vra oorbluf my die naweek wat is ‘n truseau naweek

      Liked by 1 person

      1. Jy sal eendag baie stories hê om vir jou kleinkinders te vertel. 🙂 Jy is in elk geval daar met die regte gesindheid.

        Like

Leave a reply to Rob Alberts Cancel reply