Grootmens verraad!


As klein dogtertjie van so vyfjaar woon ons vlietig in Alberton. My Ma werk by die biblioteek en my Pa verkoop nuwe blink karre. Op een woeste reëndag hol ons kindertjies soos afkop hoenders, uitgelate met plêstieksakke oor die kop in die reën. Dit was loshande die heerlikste speletjie wat ek kan onthou uit my kinderdae. (Elke kind hou mos maar sy beskermengeltjie op sy tone). Toe kom ‘n Tannie in spykerhakkies aangefladder – so in die reën; staan by die hek en koer dat ons gou moet naderkom. In my kinderonskuld reken ek sy wil my plêstieksak hê; om haar ernstige bol-opsteekhare van die reënbui te red. Maar nee, sy gryp daai sak behendig van my kop af en neuk my woeps-waps brandgat. Nico, my broer was ouer as ek en het haar soos Mannetjies Roux ge-side step en weggehol tot doer anderkand die waslyn. Ek het natuurlik so geskree – dit het geklink soos varkslag.

Sommer net daar in die veiligheid van ons eie oprit, in onse eie jaart het die monsterheks my leed aangedoen. Laataand verkla ek met droeë snikke die spykerhak Tannie se wandade aan my Pa. Pa het my rustig verduidelik dat die boosaardige heks van ‘n Tannie kamtig ons lewens gered het. Ga! Toe besef ek hoe verraad onder grootmense werk; die monsterheks in spykerhakke het ongedeerd, dood veilig bly voortleef, net twee twee tuinhekkes van ons af.

Kind speel in reen

9 responses to “Grootmens verraad!”

  1. Ja – vandag kan mens dalk glo dat sy jul van versmoring kon gered het en die volgende ou mag miskien voel sy was onredelik. Ek kies ook swaar kant. Solank haar klappe net nie te erg was nie …

    Oulik geskryf.

    Liked by 1 person

  2. Dankie, ek onthou daai pakslae soos gister. My grootste skok was dat my pa dit laat gly het. My Pa het nie laat ander mense met sy kinders se manier van grootmaak kom lol het nie. Jare later het hy ‘n skoolhoof bloedneus geslaan omdat die my oor my boude met ‘n lat pakgegee het. Dink jou in watse koerant stories van aanranding en oortreding en dies meer sou vandag losbars oor die sakie!?!

    Like

  3. Ek verstaan die sak afhaal maar oor die woeps waps staan ek bankvas agter jou !

    Liked by 1 person

    1. Weke daarna het ek nog haar varings gaan platspring elkekeer as sy dorptoe gery het…:)

      Like

      1. bwahaha

        Liked by 1 person

  4. Plaas die monsterheks net gesê het julle moet julle gatseggies laat uitsteek of ten minste saam gespeel het:) Hoop daar kom weer dae wat jy so kan rondhol in die reën. It takes a village – but oi… I don’t like the village much…

    Liked by 1 person

    1. Mmmm dis nou iets om na uit te sien, rondhol in die reën! Dankie vir die raaklees x

      Like

  5. Sy kon maar net verduidelik het dat plastieksakke oor die kop,gevaarlik is.

    Liked by 1 person

    1. Netso, maar daai drag slae het gemaak dat dit lewenslank vassteek..

      Like

Leave a comment