As Ghana se toerisme ouens hierso oopoog was, het hulle die 90 dae besoekers visum fooi van R 1539 heeltemal afgeskaf. Partykeer verblind daai dollar tekentjies die toekomsblik op meer toeriste se dikker beursies. Daar is natuurlik wandelende Engele al om ons. Ons noem hulle ‘volunteers’. Hulle betaal groot geld om in klein statte tydelik te woon, skool te gee, klinieke te bou, weeshuiskinnerties te versorg en dies meer.
Geen staatsdepartement kan jou werklik sê hoeveel ‘volunteers’ hierso is nie, maar mens kan nie anders om hulle op te merk in vreemde dorpies van Ghana nie. Ek bewonder hulle toegeweidheid en determinasie. Hierdie onselfsugtige sielle diens, laat mens baie wonder oor wat nou eintlik mý bydrae is.
Wanneer laas was jy in ‘n propperste dobbelhuis – waar die klokkies malkop lui en die Jackpot se draaiwiel rits soos ‘n strooitjie in ‘n fiets se wielspeke? Dink jou in, jy hoor mos net heeltyd die geklingel van geld…(kliek hieronder om weer te onthou)
My punt is: As die boorlinge hierso in Wes Afrika ‘n expat of volunteer teëkom, is dit ál wat hulle hoor. Ons staan stokdoof, breë glimlagte, slapgewrig handskud met oop beursies.
Partykeer – as jy jouself soos ‘n toffie wil gedra, moet jy maar net gekou word.
Mens moet wawyd wakker wees om nie sommer net jou erfporsie aan ‘n projek te sedeer nie. Oop-oog. Wakker Boeta!
Ons wat so bevooreg is, doen ook ons deel en gaan kyk waar kan ons uithelp met ‘n dak vir ‘n kliniek. Ons gaan ‘volunteer’ sonder om vooraf geld te gee. Net eers kyk-en-besin. Sommetjies maak en plan maak.
So laas week gaan kuier ek toe nou diep in die stokkies. As ek nou noem DIEP Afrika is dit so 4 ure se ry boendoes toe vanaf Akkra, Ghana – die stofdorpie Ho, is maar net so honderd-en-sestig kilometer vanaf waar ons woon.

Daar’s ‘n nuwe kliniek wat ‘n dak moet kry, en ek gaan soos ‘n wafferse (James Bond) aka ‘grootoog vrywilliger’ die projek bekyk.
Maar oppad daarheen baklei jy vir ‘n stukkie ooppad, stoei jy om ou oorlaaide lorries wat soos skewe krappe aansukkel op vrot paaie vol gate en spoedhobbels.

Net oor ‘n uur se ry moet ons van ‘n pont gebruikmaak om die Volta rivier te kruis.
Nadat ons sowat agt-en-twintig rand by die tolhek betaal het, het ons net so tien minute gewag voordat ons aan boord kon gaan.

Die met pênsvelle van klip kan dit waag om ietsie te ete te koop, so sit-sit in jou mouter deur die oop venster. Kies van rivierprons-sosatie, vars brood, sout of brandbek-visbokkoms, gekookte eiers of yskoue koeldrank in blikkies. Als wat jy kan aan dink word gevang, toegegooi in tjillie en op ‘n stokkie ingeryg, dan kom so dikblink ouvel-aantie die goeters aan jou smous vanuit ‘n blikskottel wat sy balanseer op haar kop.

Mens weet as Afrika jou verras, heers daar doodse stilte in die mouterkar. Miskien vertrou ons net nie die vrede as die gelaaiery en balanseer-ding hierlangs so seepglad in minute georden is nie! Ek was te bang om asem te haal, maar als het goed verloop, weerkante se op en aflaai. Die oorsteek was net so twaalf minute en ‘n tweede pont trek gelyktydig vanaf die teenoorgestelde oewer weg sodat daar gelyktydig ‘n pont vaar in elke rigting.

Alhoewel almal om ons angstiglik fotos van mekaar geneem het, is ek nie seker of dit soos die eerste roltraprit was vir hulle, of benoudgeit omdat baie van hulle nie kan swem nie – maar ons het ook bos gegaan en soos geoefende Japanesetoeriste gekliek.

Aangekom in die dorp Ho, was soos elke ander Afrikadorpie, met te veel mense, nou paaie, geen straatname, baie mense en ‘n bynes besige mark.


Kyk, Afrika is mooi. Groen bosse en vreemde interessante plekke. Na ete ontmoet ons die lokale manne wat ons neem na die dakhoogte kliniek. Weer in die mouter en veertig minute later kyk en meet ons die kliniek.

Teken als op sodat ons later kan beplan en besluit of ons kan bylas en help.
Vandaar ry ons na ‘n ander ‘village’ waar ons hartlik deur ‘n bondel van vyf hoofmanne van ander nabygeleë ‘villages’ ontmoet. Almal sit onder die bome – koue waterbotteltjie in die hand. Eenkant ‘n klomp hoofmanne en oudstes van die stofdorpies…annerkant, ons bleek klomp expats vir mekaar en bekyk.
Ons het ‘n geskenkie gebring in die vorm van twee bottels 40% Engelse Saffire Gin, hulle gee ons elk ‘n plestiek botteltjie grondbone. Beide partye praat deur ‘n tolk. Almal swaai arms en glimlag en knik

Linguist is voor – hand op die bors. Die Hoofmanne agter hom, mees geagte het goud in sy sandale. Agterste ry is die oudste wyse manne….
Die Gin le sommernetso in die stof…by die ‘linguist’ se voete.

Ons word seremonieël ‘gebind’ tot die betrokke gemeenskap met ‘n meeltou-en-kleikraal om die gewrig maar ek konsentreer op niks nie, Als is droomagtig vreemd, die Gin in die stof lei my aandag af.
Ek wonder of die hele gedoente óm ons, ten bate van die kliniek se dak is – is ek doof en hoor almal óm my dit.. daai Jackpot kasino se geklingel?

Leave a reply to Anonymous Cancel reply