In opdrag van Toeka-Tokkel nr. 10 :Oefening
My oudste boet was altyd geheimsinnig, hy kon homself vermaak en in die proses homself gate uit geniet. Iewers op die plaaswerf het hy ‘n reuse rondeneus enjinkap opgespoor; dit met die vaal donkie na die plaasdam gesleep. In die middae na skool het hy weggesluip en alleen in die enjinkap op die dam rondgeroei. Natuurlik het ek uitgevind en op die wal gestaan en kerm:” ek wil saam…!” So in die roei het meer en meer water in die enjinkap ingespoel. In die middel van daai plaasdam het die blerrie ding onder ons gesink en ek het so-te-sê verdrink. My Pa het ons gatvelle afgetrek.
Na die plaasdam versuipery, was moes ek heeldag aanhoor “Nee, jy kan nie saamspeel nie want jy’s ‘n meisiekind.” Voordat ek enige in enige gespelery kon deelneem moes ek eers ‘n ‘toets’ slaag wat my ‘waardig’ genoeg sou maak om met die seuns te speel.
Hierdie ‘toetse’ het my meer oor myself en my perke geleer as wat Ouboet ooit kon raai.
Soms moes ek Wilbert-die-beneukte-stoet-bul, bekruip en ‘n klap op die gat gee voor ek laat spaander het en oor die klip kraalmuur moes spring. ‘n Ander toets het behels ek moes die wit bokram se knatersak ‘n tik met die plathand gee en weghol sonder dat hy my van my voete af kon afstamp. Sondag middae het ons gewag tot die oumense slaap, dan het ons beeskraal toe gesleep. Dit was groot sports om ‘n groot kalf aan die stert te gryp en op jou hakke deur die die beesmis strepe in die kraal te ‘ski’. Daar was ‘n befoeterde mannetjiegans van my ouma genaamd Hansel. Ons kon net Ouma se aarbeie ge-oes kry as ek net-net vinniger as Hansel kon hardloop voordat hy my ‘n bloukol in die been kon knyp. Magriet die vaal donkie was hondmak as jy haar eers gevang het. As ek vandag terugdink dink ek sy het die gevangery vreeslik meergeniet, as ek.
Ouboet se toetse het ek nie altyd met die eerste probeerslag geslaag nie, maar daar was net niemand anders om mee te speel nie. Die geheim was om te bly oefen…totdat ek dit kon regkry…

Leave a reply to Skuinsweg Cancel reply