Oefening


In opdrag van Toeka-Tokkel nr. 10 :Oefening

 

My oudste boet was altyd geheimsinnig, hy kon homself vermaak en in die proses homself gate uit geniet.  Iewers op die plaaswerf het hy ‘n reuse rondeneus enjinkap opgespoor;  dit met die vaal donkie na die plaasdam gesleep.  In die middae na skool het hy weggesluip en alleen in die enjinkap op die dam rondgeroei.  Natuurlik het ek uitgevind en op die wal gestaan en kerm:” ek wil saam…!” So in die roei het meer en meer water in die enjinkap ingespoel.  In die middel van daai plaasdam het die blerrie ding onder ons gesink en ek het so-te-sê verdrink.  My Pa het ons gatvelle afgetrek.

Na die plaasdam versuipery, was moes ek heeldag aanhoor “Nee, jy kan nie saamspeel nie want jy’s ‘n meisiekind.”  Voordat ek enige in enige gespelery kon deelneem moes ek eers ‘n ‘toets’ slaag wat my ‘waardig’ genoeg sou maak om met die seuns te speel.

Hierdie ‘toetse’ het my meer oor myself en my perke geleer as wat Ouboet ooit kon raai.

Soms moes ek Wilbert-die-beneukte-stoet-bul, bekruip en ‘n klap op die gat gee voor ek laat spaander het en oor die klip kraalmuur moes spring.  ‘n Ander toets het behels ek moes die wit bokram se knatersak ‘n tik met die plathand gee en weghol sonder dat hy my van my voete af kon afstamp.  Sondag middae het ons gewag tot die oumense slaap, dan het ons beeskraal toe gesleep.  Dit was groot sports om ‘n groot kalf aan die stert te gryp en op jou hakke deur die die beesmis strepe in die kraal te ‘ski’.  Daar was ‘n befoeterde mannetjiegans van my ouma genaamd Hansel.  Ons kon net Ouma se aarbeie ge-oes kry as ek net-net vinniger as Hansel kon hardloop voordat hy my ‘n bloukol in die been kon knyp.  Magriet die vaal donkie was hondmak as jy haar eers gevang het.  As ek vandag terugdink dink ek sy het die gevangery vreeslik meergeniet, as ek.

Ouboet se toetse het ek nie altyd met die eerste probeerslag geslaag nie, maar daar was net niemand anders om mee te speel nie.  Die geheim was om te bly oefen…totdat ek dit kon regkry…

 

 

 

15 responses to “Oefening”

  1. Mapstieks! Ek was een van die jongstes tussen die klomp niggies en neefs en moes ook ‘toetse’ doen om dan saam met hulle te kan speel.

    Liked by 1 person

    1. Ha ha ha so dis ‘n ou truuk… Het oulik gewerk. Net jammer daar was nie iemand jonger as ek wat ék kon toets nie.

      Like

  2. Vandag is julle natuurlik die beste vriende?

    Liked by 1 person

  3. Wat een testen bedachten ze voor jou.
    Zou je dit alles nu nog eens willen doen?

    Vrolijke groet,

    Like

    1. Nee wat dankie – ek kan beslis nie meer so vinnig hardloop nie.

      Like

  4. Meestal was die kattekwaad wat ons generasie as kinders aangevang het alles “skoon en onskuldige” pret, maar ons het ook maar so in die moeilikheid gekom. Ek en my maatjie het eendag my pa se klein troppie skape probeer aanjaag (hoekom kan ek nie meer onthou nie, seker maar om ons vaardigheid as skaapwagters te bewys) en in die proses die hele trop by die hek laat uithardloop. Ons was seker so ses jaar oud. Ons sit hulle toe agterna en daar sny ek my voet vreeslik op ‘n stuk glas wat in die lang gras gelê het. Ons kon die skape terugja met die hulp van een van die getroue werkers, maar ek kon nie die sny in my voet vir my ma wegsteek nie, so toe moet ek uit met die hele storie!

    Liked by 1 person

    1. Mmm ja bokke loop nog mooi saam maar skape spat mos in elke rigting. Beslis was dit in ‘n tyd wat kinders nog kaalvoet buite gespeel het.

      Liked by 1 person

  5. Bwahahaaa vir die beeld van daardie plaas-ski’ery!

    Liked by 1 person

    1. Dit het als tot ‘n einde gekom toe ren kalf net sommer so kromtrek en bulk soos bog nooit. 😳. My Pa moes kom kyk. En ons moes verduidelik…
      Sy stert mors afgebreek!
      My Pa het ons gatte so gestreep ek onthou dit vandag nog en is baie skaam daaroor 😕. Arme kalf…my Pa moes hom van kant maak

      Like

      1. Seker ‘n gepaste straf dat julle sterre gebrand het oor die gebreekte stert…

        Like

      2. Seker ‘n gepaste straf dat julle sterre gebrand het oor daardie gebreekte stert…

        Liked by 1 person

  6. Lekker kinderdae. Ek het drie boeties en die biere langsaan het 4 seuns gehad so ek MOES saamspeel, saam kleilat gooi en alles saam doen… natuurlik om die span vol te maak, so ek ken jou “pyn” Ons het ook met die sinkbad gaan roei… was lekker om te lees en weer saam te ervaar.

    Liked by 1 person

  7. Ons was net drie susters en het nie toetse gedoen nie! Ek as middelkind het maar saam met albei gespeel en gekuier. My oudste suster het n oog op n kuiergas by bure gehad. Sy het my gestuur om te gaan vra(wat? onthou ek nie meer nie!)Klop aan deur, ou maak oop, ek vra: My ma vra… my ma vra….. Dis hoe ver ek gekom het. My ma moes my kom red uit die moeilike situasie. Die outjie het toe wel vriende met my suster geword na my spraaklose vraag!

    Like

  8. Heerlik gelees dankie. Ek was ‘n laatlam met drie ouer broers wat my beperkinge redelik op die proef gestel het; ek dink ek die helfte van my dae in vrees deurgebring, maar niks sou my weerhou daarvan om ‘n uitdaging te aanvaar nie.

    Liked by 1 person

Leave a reply to rondomtaliedraai Cancel reply