Hier binne-in die kas is dit donkerder as wat ek myself voorgestel het. Niemand sal my hier kom soek nie, dis streng verbode om in Ma-en-Pa se slaapkamer in te kom. Die houtvloer het reeds twee keer gekraak waar Nico, my boet, in die deurkosyn kom huiwer het.
Seker op sy pensvelle gelê – so in die deur; om my onder die bed te soek. Ek is gedetermineerd om soos die Skim weg te kruip. As iemand na die kasdeur aangesluip kom, sal ek vinnig opstaan en myself toevou in Pa se lang kamerjas, wat tot op die kasvloer hang.
Na wat soos ‘n ewigheid voel, met my knieë onder my ken opgetrek; my kaalvoete diep in my Pa se pantoffels, is ek en Klaasvakie aan die stoei.
Later hoor ek my broers speel in die gang. Hulle skaats op op-en-af op die gepoetste vloere op hulle grys skoolsokkies. Die wegkruipery, en ek in die kas, is lank vergete. Dis ‘n uitbundige speletjie en ek brand om te deel in die sports.
Uiteindelik staan ek om bloedvloei terug te kry in my bene. Lank talm ek; snuffel aan my Pa se baadjie, asof ek hom die eerste keer raakruik. Vir oulaas verwonder ek myself oor die growwe tekstuur van sy gunsteling trui. Die tydglas drup uit, ongesiens glip ek uit my Pa se klerekas.
Hier in die grootmens wêreld is dit meer doodgewoon as wat ek myself voorgestel het. Niemand sal die bokstertkind hier kom soek nie. Dis nou taboe om kinders speletjies te speel- maar grootmense speel in mekaar se verbode slaapkamers. Van ons vriende se huwelike het reeds gekraak waar versoeking, geld en jaloesie, in die huwelik kom kuier het.
Slim het homself uitoorlê – soek sy maat ook agter die deur; soek sports in ‘n ander bed. Ek is gedetermineerd die Skim het nog nooit weggekruip. As iemand in wolfklere aangesluip kom, bid dat ek vinnig myself toevou in my Man se huweliksbeloftes wat ek as pand, elke dag aan my hand dra.
Meer as twintig jaar getroud kan soos doodgewoon voel. My Vrystaatman se rasperstem het by tye nog my knieë lam. As hy reis; loop ek die huis vol in my man se pantoffels. Klaasvakie en ek stoei nie, ek slaap rustig wetende ek is gelief.
Ek mis my kinders se speel in die gang. Hulle gatte het gebrand oor skaats op hulle grys skoolsokkies. Die speletjies en lesse van my ouerhuis sal my altyd bybly. Hierdie is ‘n uitbundige lewensdeel en ek is snoep om my gesinstyd te deel met ander.
Uiteindelik staan ek op my eie bene. Lank het ek getalm; gewonder of ek hierdie huwelikdeel, regdoen. Vir oulaas verwonder ek myself oor die gunsteling saamkuiers en vakansies van my gesin.
Die tydglas drup uit, ongesiens glip hierdie wonderlike lewensdeel verby, die kinders is nou groot.

Leave a reply to perdebytjie Cancel reply