Die tydglas drup uit…


Hier binne-in die kas is dit donkerder as wat ek myself voorgestel het. Niemand sal my hier kom soek nie, dis streng verbode om in Ma-en-Pa se slaapkamer in te kom. Die houtvloer het reeds twee keer gekraak waar Nico, my boet, in die deurkosyn kom huiwer het.

 

Seker op sy pensvelle gelê – so in die deur; om my onder die bed te soek. Ek is gedetermineerd om soos die Skim weg te kruip. As iemand na die kasdeur aangesluip kom, sal ek vinnig opstaan en myself toevou in Pa se lang kamerjas, wat tot op die kasvloer hang.

 

Na wat soos ‘n ewigheid voel, met my knieë onder my ken opgetrek; my kaalvoete diep in my Pa se pantoffels, is ek en Klaasvakie aan die stoei.

 

Later hoor ek my broers speel in die gang. Hulle skaats op op-en-af op die gepoetste vloere op hulle grys skoolsokkies. Die wegkruipery, en ek in die kas, is lank vergete. Dis ‘n uitbundige speletjie en ek brand om te deel in die sports.

 

Uiteindelik staan ek om bloedvloei terug te kry in my bene. Lank talm ek; snuffel aan my Pa se baadjie, asof ek hom die eerste keer raakruik. Vir oulaas verwonder ek myself oor die growwe tekstuur van sy gunsteling trui. Die tydglas drup uit, ongesiens glip ek uit my Pa se klerekas.

 

Hier in die grootmens wêreld is dit meer doodgewoon as wat ek myself voorgestel het. Niemand sal die bokstertkind hier kom soek nie. Dis nou taboe om kinders speletjies te speel- maar grootmense speel in mekaar se verbode slaapkamers. Van ons vriende se huwelike het reeds gekraak waar versoeking, geld en jaloesie, in die huwelik kom kuier het.

 

Slim het homself uitoorlê – soek sy maat ook agter die deur; soek sports in ‘n ander bed. Ek is gedetermineerd die Skim het nog nooit weggekruip. As iemand in wolfklere aangesluip kom, bid dat ek vinnig myself toevou in my Man se huweliksbeloftes wat ek as pand, elke dag aan my hand dra.

 

Meer as twintig jaar getroud kan soos doodgewoon voel. My Vrystaatman se rasperstem het by tye nog my knieë lam. As hy reis; loop ek die huis vol in my man se pantoffels. Klaasvakie en ek stoei nie, ek slaap rustig wetende ek is gelief.

 

Ek mis my kinders se speel in die gang. Hulle gatte het gebrand oor skaats op hulle grys skoolsokkies. Die speletjies en lesse van my ouerhuis sal my altyd bybly. Hierdie is ‘n uitbundige lewensdeel en ek is snoep om my gesinstyd te deel met ander.

 

Uiteindelik staan ek op my eie bene. Lank het ek getalm; gewonder of ek hierdie huwelikdeel, regdoen. Vir oulaas verwonder ek myself oor die gunsteling saamkuiers en vakansies van my gesin.

 

Die tydglas drup uit, ongesiens glip hierdie wonderlike lewensdeel verby, die kinders is nou groot.

15 responses to “Die tydglas drup uit…”

  1. Pragtig geskryf….die uurglas loop voorwaar vinnig uit!

    Liked by 1 person

  2. Mooie beeldspraak!

    Zonnige groet,

    Like

  3. Ai, ek voel vir daardie bokstert meisie in haar pa se pantoffels en kamerjas. Jy beskryf dit alles so mooi. Baie gevoelvol. Ek hoor en sien in my gedagtes ook dat die kinders in die gang gly en haar vergeet. 🙂

    Liked by 1 person

  4. My pa het nie ‘n ingeboude kas gehad nie, maar ‘n imbuia “wardrobe” waarin ek nie sou kon wegkruip nie. Tog onthou ek die kenmerkende reuk van daardie kas – my pa. Later, in my eie huis, het ek altyd soggens vyf koppies vir koffie reggesit. Soos die kinders universiteit toe is en uit die huis uit begin begin beweeg, raak die koppies minder. Tans is daar net drie koppies – niks lekker nie. Vakansietye sing my hart – vyf koppies!

    Liked by 1 person

    1. Jaa ek onthou daai fênsie mooi hout kaste met bal en klou pootjies. Watter mooi beeldspraak oor vyf koppies en jou singende hart! Drie is nogals ‘n ongelyke nommer

      Like

  5. Ek ruik my pa in houtsaagsels. Hy het die mooiste meubels gemaak op sy draaitafel. Die teetrollie met sy lampie en houtbakkie wat hy vir my gemaak het, is die enigste “ou” meubelstukkie wat saam met my deur die lewe reis.

    Liked by 1 person

    1. Wat ‘n mooi herinnering. Ietsie wat jy altyd kan koerster! Laat my wonder wat my kinners van my gaan onthou…

      Liked by 1 person

  6. Ai Thulana nou is daar ‘n beklemming in my borskas op die Vrydagoggend. Ek mis my kinders en my ouers en die tyd is sooo min.

    Liked by 1 person

    1. As ek net kan uitvind waar die lewe se ‘pause’ knippie is…

      Like

  7. Die mooi memories is brandhoud vir die oudag. Ek het weereens lekker by jou gelees.

    Liked by 1 person

Leave a reply to Rob Alberts Cancel reply