Elke dag is nie Krismis nie. Daar moet die eenvoudige vaal grys dae wees sodat ons die rêrige spesiale dae kan onthou. As alle dae wa-wa-whoom was, was ek sekerlik in die malhuis! Miskien raak ek dan soos kindertjies wat oormoeg vaak is, mislik en opgeskeep met myself.
Vandag gaan een van my vriendinne weg. Dis maar die lot van ekspat-mense. Sodra jy iemand gevind het wat op dieselfde bladsy as jy inkleur, vat hulle die trekpas. Die laaste ete, tennisspeel en uitkuier. Sy’s so oorweldig met haar reis reëlings en pakkery, dat sy my langlip heelemal miskyk.
Sekerlik gaan ek nou nie soos ‘n lappop ‘n ashoop soek nie, maar ag magtig man! Kan Karma nie effe langer my misgekyk het nie?
As ‘n blom homself kan dwing om volgende somer weer te blom na ‘n mislike winter, dan kan ek sekerlik maar weer uitkyk vir beter dae!

Leave a reply to ekmyselff Cancel reply